Bredell ‘geniet Malmesbury en die bietjie spasie’
Die Swartland is in die bevoorregte posisie dat daar sedert die oorgang stabiliteit was.
“Met die destydse politieke oorlooptydperk, was ons nooit geaffekteer met die oorlope nie.
“Ons was sterk genoeg dat ons nooit van regering verander het nie. So jy kon die lyne lê. Die dissiplines daarstel en jy het die stabiliteit gehad. Dis die kernbeginsels wat jy moet vestig om ‘n raad te beheer.”
Só gesels Anton Bredell, die Wes-Kaap se LUR vir plaaslike regering en omgewingsake.
dié courant het by sy kantoor in Dorpstraat in Kaapstad, waar hy nou reeds vir meer as 15 jaar die langsdienende LUR in dié portefeulje in die land is, by dié Swartlander gaan kuier.
Hy het buite Stellenbosch op ‘n plaas grootgeword en sy skooljare aan Laerskool AF Louw en Paul Roos Gimnasium voltooi. Hierna het hy in bemarking en verkoopbestuur studeer.
Bredell vertel dat sy liefde vir die gemeenskap hom in die politiek laat beland het.
Nadat sy pa destyds die Darling Hotel gekoop het, was dié dorp se toekoms en die invloed van die Weskuspad wat baie verkeer verby die dorp herlei het, onder die uitdagings.
“Die vraag was hoe kan ons ons dorp red – bemark? Hoe kry ons ons dorp om te groei? Hoe kry ons mense in ons dorp. En ook, hoe spreek jy armoede aan?”
Hier het Bredell in die gemeenskap betrokke geraak.
Die aksies om die dorp se jeug te help en besig te hou, het die Darling Fokus-gebou ingesluit. “Ons was die eerste munisipaliteit wat befondsing gekry het om so ‘n sentrum te bou.”
Dit het ‘n koffiekroeg en ontspanningsfasiliteite ingesluit asook ‘n rekenaarsentrum, waar arm kinders kon kom sit en werk “want arm kinders het nie daardie toegang nie”.
“Daar het baie mooi projekte ontstaan.”
Onder andere het Khosa-sprekendes vir Afrikaans-sprekendes die taal geleer en andersom. Stellenbosse huishoudkundestudente het armer mense geleer om bekostigbaar voedsame kos te maak.
Dit, vertel Bredell, was die voorloper van die Thusong-program in die provinsie.
Hy het op die Darling-oorgangsraad gedien en is met die nuwe bedeling waar rade saamgevoeg is, in 2000 vir die Swartlandraad genomineer.
Hier was hy onderburgemeester en later burgemeester.
“Ons was baie bevoorreg in die Swartland. Ons het vir Oom Coenie van Rensburg (nuwe munisipale bestuurder) gehad. Hy het ‘n groot rol gespeel, want hy het ‘n klomp jong bulle gekry – ek was jonk, Joggie (Scholtz) en Phillip (Humphreys) was jonk. Hy moes ons in ‘n rigting vorm voor hy aftree eendag en hy het dit reggekry.
“Oom Coenie het ‘n moeilike rol gehad, want hy moes die stadsklerke (van al die dorpe) bestuur en bymekaar hou. Die politiek was warm.
“Ek dink Oom Coenie het baie goeie werk gedoen. ‘n Ou vergeet soms van daardie fondasies wat gelê was. Hy kan terugkyk en baie trots wees op wat hy met ons reggekry het.”
“Dit het gehelp om daardie fondasie te lê en kundigheid te behou.
“Wat lekker is as jy ‘n stabiele raad het, wil kundige mense vir jou kom werk.”
Hy sê hulle sukkel al meer in munisipaliteite om mense aan te stel, “want mense wil nie in die modderbad van politiek ingetrek word nie”.
Ek vra hom uit oor die N7 en die suksesse van die Swartland Munisipaliteit. “Mense moet besef die munisipaliteit se rol. As jy grootmaatdienste gee en die katalitiese projekte dryf wat regering behoort te doen, sal besigheid die res doen. Jy moet nie probeer ‘n werkskeppingsinstansie raak nie.
“Die N7 is ‘n geweldige ekonomiese inspuiting vir die streek hier op. Moorreesburg en verder. Hy gaan net rol. Hy gaan net aanhou rol.
“Die mense hou van die platteland, kom ek agter en dit is ‘n oop pad. Dit is ‘n lekker pad.”
Bredell ry al 15 jaar stad toe. Waarom woon hy nog op Malmesbury?
“Ek geniet Malmesbury. My familie is gemaklik. My vrou is gelukkig, my kinders is gelukkig. Ook die verkeer. Die paaie is oop. Die erwe is groter. So jy het ‘n bietjie spasie om jou.
“Ek geniet die dorp. Ek geniet die omgewing. Jy vind vrede vir jou siel as jy huis toe gaan. Jy werk met baie mense se probleme en pyne. Die les wat ek geleer het op ‘n plek soos George (ná die ramp waar die gebou ingestort het). Die emosie vang jou ná dag vier of vyf.
“As jy dan huis toe kom en jou familie is gelukkig, dan help dit jou ook om weer te “recharge” amper.”
Lees ook: Ons moet amper nie brag oor skoon oudits nie