Darling se blomskouspel skop af
Vrydag 20 tot Sondag 22 September
Dit is weer tyd vir die jaarlikse blomskouspelnaweek op Darling.
Die Darling Veldblomvereniging se wêreldbekende veldblomskou skop oor twee dae af en word van Vrydag tot Saterdag by die sportklub op die dorp gehou.
Met mildelike reën wat vanjaar geval het, is die velde in die Darling-omgewing tans ‘n lushof met ‘n kleurespel en daar is ook plate en plate varkore/aronskelke.
Die veldblomskou is meer as ‘n eeu gelede vir die eerste keer gehou.
Die gewilde unieke uitstalling van inheemse veldblomme en plante wat in hul natuurlike habitat uitgebeeld word, is jaarlikse ‘n groot hoogtepunt op die dorp se kalender.
Daar is vanjaar weer ‘n spesietafel, opelugmark, teekamer, trekkerritte, veteraanmotors en -trekkers, inheemse plantverkope, wyn- en bierproe en ‘n verskeidenheid heerlike eetgoed in.
Afgesien van die aktiwiteite by die Darling Sportklub, sal Swartland Toerisme gedurende die naweek ook ‘n pendelbusdiens na die dorp bedryf omdat daar so baie is om te sien en doen in die area.
Vrydag 20 tot Sondag 22 September – 09:00 – 17:00
Darling Sportklub, Jakarandastraat, Darling
Die toegang beloop R80 vir volwassenes en R60 vir pensioenarisse en studente. Vir kinders onder 12 jaar is toegang gratis.
Kaartjies is beskikbaar op Quicket en by die hek.
Die reservate in en om die dorp is nou ook weer oop vir die publiek en ‘n fees vir blom- en natuurliefhebbers.