Agri/BusinessLatest

Engelbrecht, Neethling nuwe toerismedirekteure

Op Swartland Toerisme se algemene jaarvergadering gister by Contreberg buite Darling is Andro Engelbrecht en Nicole Neethling tot nuwe lede van die direksie verkies.
Die nie-winsgewende maatskappy Swartland Toerisme is in 2022 gestig nadat die Swartland Munisipaliteit besluit het om die ou bestel te vervang. Die munisipaliteit het konsultante aangestel en die proses is gevolg om die nuwe maatskappy te laat stig.

Twee aanvanklike direkteure, Sean Cleary-Le Grange en Derek van der Riet, het vroeër uitgetree en hulle is opgevolg deur Nelius Volschenk en Ashley Stone.
Die jongste vakatures op die direksie het ontstaan toe die vorige voorsitter, Tewie Roos, en nog ‘n direkteur, Michael Daiber, in Julie bedank het.
Dié posisies word nou deur Engelbrecht en Neethling gevul.
Stone is voorsitter met Volschenk en Jolene Janse van Rensberg die ander lede van die direksie.

Die direksie van Swartland Toerisme is slaggereed vir die nuwe jaar. Van links staan Ashley Stone (voorsitter), Nelius Volschenk, Nicole Neethling, Jolene Janse van Rensburg en Andro Engelbrecht

Stone het gesê die plan is om die pos van toerismebestuurder vir die streek weer permanent te vul wanneer die ooreenkoms met die waarnemende bestuurder, Ann Heyns, verstryk.

Swartland Toerisme se hoofkantoor asook dié van die beampte vir Malmesbury, Moorreesburg en Koringberg (Adri Jacobs), is op Malmesbury. Die ander drie kantore is dié op Yzerfontein (Yvette Collins), Darling (Dianne le Roux) en Riebeek-Kasteel (tans behartig deur Ashlyn Snyman).
Stone het ook die begroting vir die nuwe jaar op die jaarvergadering voorgehou. Die begrote inkomste is R1,965 miljoen en die begrote uitgawes, waaronder R335 000 vir bemarking, beloop R11 322 minder.

Stone het gesê daar is ‘n geleentheid vir die privaatsektor om met Swartland Toerisme hande te neem om toerisme se werk in die streek verder uit te bou.
Heyns het gesê Swartland Toerisme het die mandaat van die munisipaliteit om as die hele Swartland se streektoerisme-organisasie op te tree. Die ledetal van Swartland Toerisme het die laaste jaar met 16% toegeneem en hul wil dit verder laat groei. Die Riebeekvallei het tans die meeste lede, gevolg deur Yzerfontein en Darling.
Heyns sê hulle wil die streek uitbou tot ‘n voorste toerismebestemming teen 2030.

Leave a Reply

error: Content is protected !!