Lillies, Melkboere jag nou Boland-beker
Die twee top-Swartlandse spanne in die Boland Grootuitdaagliga, Abbotsdale en Darling, meet van die komende naweek af saam met die ander 5 streke se sterre kragte om die Sanlam Boland Top 12-rugbytrofee.

Vir die Melkboere van Darling bied dit nog ‘n kans om hul hande op die trofee te lê, nadat hulle verlede jaar ook vir dié room-van-Boland-kompetisie gekwalifiseer het. Darling was toe die Swartland se kampioen met Wesbank wat die naaswenner was en ook in die Top 12 gespeel het.

Vanjaar het Abbotsdale ander planne gehad in die Swartland en dit was vanuit die staanspoor duidelik dat hulle in ide streekafdeling moeilik na die wenpaal geklop sal word.
Lillies het die Swartlandafdeling gewen met Darling wat tweede was.

Nou ding 12 spanne oor die volgende sewe weke mee om die Boland-louere.
Abbotsdale begin hul Top 12-veldtog Saterdag op tuisbodem teen die besoekende span van Vanrhynsdorp Eagles, wat tweede geëindig het in die Noordweste-afdeling. Young Spurs van Doringbaai het daar met die louere weggestap.
Darling reis Saterdag na Robertson om dié Breë-Langeberg-kampioen aan te durf. Worcester Villagers was die naaswenner in die Breë-Langebergafdeling.

Die ander spanne in vanjaar se Top 12, is Vredenburg (Weskuskampioen) en Saldanha (2de), Safcol (Overbergkampioen) en Caledon (2de) en Newtons (Wit-Sentraalkampioen) en Ceres (2de).
Onder dié spanne is daar sewe nuwelinge (Abbotsdale, Vredenburg, Young Spurs, Ceres, Newtons, Caledon en Worcester Villagers) in dié kompetisie met Darling, Vanrhynsdorp Eagles, Safcol (verdedigende kampioen), Saldanha en Robertson wat ook verlede jaar in dié kompetisie was. Maar van die “nuwelinge” was al voorheen ook Bolandkampioene.
Abbotsdale se uitspeelwedstryde (Groep A) is:
12 Oktober – tuis teen Vanrhynsdorp Eagles
19 Oktober – weg teen Worcester Villagers
26 Oktober – tuis teen Newtons
2 November – weg teen Vredenburg
9 November – tuis teen Caledon
.
Darling se bepalings (Groep B):
12 Oktober – weg teen Robertson
19 Oktober – tuis teen Young Spurs
26 Oktober – weg teen Safcol
2 November – tuis teen Ceres
9 November – weg teen Saldanha