EntertainmentLatest

Uitvoerings terug in Darlingse voorkamers

Ná ‘n afwesigheid van ‘n klompie jare, maak die gewilde Darling Voorkamerfest wat in 2003 die eerste keer gehou is, aanstaande naweek sy terugkeer na voorkamers op dié dorp.

Dit is die 15de aflewering van die Voorkamerfest op 19 en 20 Oktober met drie tydgleuwe waar besoekers uit sewe roetes ‘n gelukspakkie/geheime roete van drie opvoerings koop. Hulle word dan met taxi’s na die onderskeie uiteenlopende lokale geneem vir intieme teater met ‘n gehoor van maksimum 25 mense in plaaslike inwoners se ‘voorkamers’ regdeur die Darling-gemeenskap.

Daar is in totaal 21 uiteenlopende optredes wat bekende en opkomende kunstenaars insluit.
Darling se eie Tannie Evita maak vanjaar vir die eerste keer haar buiging op dié fees wat voorheen vanaf Evita se Perron aangebied is. Evita se Perron is vanjaar een van die “voorkamers” op die fees en die roetes vertrek vanjaar vanaf Darling Brew se perseel in die industriële gebied.

Uiteenlopende optredes is dit inderdaad. Van storieverteller/rapper Jitsvinger, tot komediante Kagiso Mokgadi, Angel Campey en Irit Noble, wynglasmusiek deur Spac Lingwood en die akteur Philip Moolman. Daar is ook solo-optredes deur Eugenie Grobler, Hannah Ray, Tim Parr en Loren Ehlers, illusiekuns deur Stuart Lightbody, die AfroTropica Steel Band en ‘n punk-rock-optrede deur Delicious Monsters. Onder die optredes op feesgangers se roete kan hulle ook die ensembles van Lungiswa Plaatjies en Kim Masala of die Voices of Afrika-kwartet sien optree. En daar is ook dansgroepe soos FloDance en die Waterfront Theatre School en die Voices of Afrika-kwartet.

Die taxi’s vertrek Saterdag om 11:00 en 17:00 en weer Sondag om 11:00.
Feesgangers koop ‘n kaartjie vir een van die sewe kleurgekodeerde roetes en kan oor die naweek op drie verskillende kleurroetes nege optredes van 30 minute elk bywoon.
Die organiseerders het feesgangers versoek ‘n uur voor hul taxi vertrek, te arriveer.
Die kaartjies kos R300 per roete van drie optredes en is beskikbaar by https://www.quicket.co.za/events/273130-2024-voorkamerfest

Leave a Reply

error: Content is protected !!