Sadie, Swartland skitter in Spanje
Die 2024 Golden Vines internasionale toekennings wat uitnemendheid in goeie wyn en skaars spiritualieë vier, is Saterdagaand by ‘n galaseremonie in Madrid, Spanje oorhandig. Een van die uitstaanoomblikke by die by Palacio Cibeles was die jaarlikse toekenning van die OPUL Jets Rising Star vir die derde agtereenvolgende jaar aan Sadie Family Wines in die Paardeberg wat weer vereer is “vir hul besondere talent en bydrae tot goeie wyn”.
Jane Master, voorsitter van die Instituut van Wynmeesters, sê: “Eben’s determined search to produce outstanding wines has put Swartland and South Africa on the map.”
Die Swartland was goed verteenwoordig en in die afdeling vir Best Fine Wine Producer In The Rest Of The World het Sadie Family Wines die tweede plek verower met Mullineux & Leeu in die 5de plek.
Ook in die Rising Star-kategorie waar Sadie Family Wines die louere ingeoes het, was nog twee van Suid Afrika se ander vier in die Top-10 op die wêreldverhoog uit die Swartland. Mullineux & Leeu het die derde plek ontvang met David & Nadia in die die sewende plek.
Die toekennings wat in 2021 ontstaan het, is bekend daarvoor dat dit van die mees invloedryke rolspelers in die bedryf oor drie dae byeen bring vir die eksklusiewe vieringe en toekennings.
Toegang na dié vieringe het gaste £10 000 per persoon uit die sak gejaag.
Die toekennings in verskeie kategorieë is opgeraap deur onder meer Vega Sicilia in Spanje, Domaine de la Romanée-Conti in Frankryk, die Harlan Estate in Kalifornië, Henschke in Australië, Familia Torres in Spanje, The Macallan in Skotland, Felton Road Wines in Nieu-Seeland,
’n Totaal van 1 200 ervare mense uit die bedryf wat meer as ‘n 100 lande verteenwoordig het, het deelgeneem aan vanjaar se toekenningsbenoemings en stemming. Onder hulle tel ‘n groot aantal wynmeesters en meester-sommeliers.
Die afgelope drie jaar se toekennings was in Londen, Florence en Parys. Aanstaande jaar word die galageleentheid in Miami gehou gevolg deur Singapoer in 2026.