Vier erfenisjuwele tans in die mark
Die Swartland is ryk aan geskiedenis en erfenis met die eerste plase wat rondom 1700 in die streek aan boere toegeken is.
Malmesbury het ontstaan en ontwikkel rondom die warmbron en daar is nog heelparty ou geboue in die dorp.
Vier van dié erfenisjuwele is tans in die mark en bied ‘n geleentheid vir nuwe eienaars om ‘n stukkie van die geskiedenis te bekom.

Een van die dorp se bekendste bakens is The Beacon, die ou Schoonspruit-opstal
Dié besondere huis was, saam met die nabygeleë Vergenoeg-huis ook bekend vir hul pragtige tuine.
Die treinspoor loop onder dié twee huise verby en die trein het vroeër jare dikwels spesiaal gestop sodat passasiers deur die tuine kon wandel en piekniek hou.
Trevor Rinkwest, oudhedeversamelaar en geskiedeniskenner van die streek, vertel aan dié courant dat daar ook baie spesiale gaste onder dié besoekers was.
In 1947 het die destydse Britse Koning George en sy vrou Elizabeth (later die Koninginmoeder) en hul twee dogters, prinsesse Elizabeth (later Koningin) en Margaret, vir maande per trein deur Suider-Afrika gereis. Hulle het ook by Schoonspruit aangedoen.



The Beacon, later weer Schoonspruit genoem, is in die vroeë 2000’s deur die bekende kultuurhistorikus dr. Hans Fransen saam met die Vergenoeg-huis as twee van die beste Victoriaanse huise hier beskryf.
Naas die kenmerkende toring en stoep, beskik die huis onder meer oor ‘n paar uitsonderlik en pragtig bewaarde kaggels in van die vertrekke.
Schoonspruit is volgens rekords vroeg in die 1900’s teen £4000 deur mnre. Rood en Penberthy van mnr. Van der Westhuizen gekoop.
Dit het later nog eienaars gehad voor dit tot enkele jare gelede vir dekades aan die Nelson-familie behoort het.
Dit is nou in die mark: https://www.remax.co.za/property-for-sale-south-africa/western-cape/malmesbury/malmesbury-industria/6-bedroom-commercial-property-for-sale-in-malmesbury-industria-4352009

Nog een van die bekende erfenisjuwele in Malmesbury is die bekende Von Elgg-huis naby Laerskool Swartland. Die huis het ‘n klomp jare aan mnr. Gerrie Thiart en sy gesin behoort en word ook deur sommige die Thiart-huis genoem.
Die huis is in die nie-amptelike erfenisregister van die Swartland saam met enkele ander eiendomme op Malmesbury as baie belangrik geklassifiseer met die hoogste erfenisgradering in die dorp.
Dié Victoriaanse herehuis is oorspronklik in 1875 gebou en die enigste oorblywende dubbelverdiepinghuis uit dié era in Malmesbury.
Die grond is volgens rekords deur die NG Kerk aan ene E.S. Ford verkoop waarna die huis vir of deur Edith Henrietta Kotze gebou is vir ongeveer £7 000 – glo ‘n uitsonderlike hoë bedrag in daardie tyd.



Kotze het dié laat-Victoriaanse huis glo gebou as ‘n presiese replika van ‘n skets wat hul uit Engeland saamgebring het. Die meeste boumateriaal, behalwe vir die sandsteen van plaaslike oorsprong, is glo uit ‘n katalogus bestel en so uit Engeland ingevoer. Dit sluit onder andere gepersde staalplafonne en muurbedekkings in. Daar is ook ses versierde marmerkaggels.
Die bekende Baron Frederick Fortunatus Werdmuller (Von Elgg) uit Zurich het die huis in 1907 gekoop en vir baie jare daar gewoon.
Dit is in 1983 as nasionale monument (deesdae bekend as provinsiale erfenisterrein) verklaar en maak ook deel uit van die Malmesbury Historiese roete.
Dit is nou in die mark: https://www.sahometraders.co.za/5-bedroom-house-for-sale-in-bergzicht-115104319

In Weststraat is daar nog ‘n historiese huis wat nou in die mark is.
Die jaartal op een van die gewels van dié ikoniese huis, Waveren, word as 1906 aangetoon. Dit is in die erfenisopname van die streek beskryf as ‘n goeie voorbeeld van die boustyl en era waaruit die eiendom dateer.



Die kenmerkende rooi trappe en stoep lei jou tussen die pilare deur na die voordeur met loodglaswerk.
Rinkwest (72) vertel die eiendom, soos baie ander, het vroeër ‘n groter stuk grond beslaan. “Ant Lily Jordaan-hulle het lank die huis gehad en dit was altyd ‘n baie netjiese huis.”
Die huis het later ook behoort aan Jeanne Stander wat vir ‘n klompie jare die hoof van Swartland Pre-Primêr was.
Waveren is nou in die mark: https://www.harcourts.co.za/results/residential/for-sale/malmesbury/bergzicht/house/127969/

Nog ‘n huis wat ook nou ná jare weer in die mark is, het voorheen aan Rinkwest self behoort. Hy het vir “amper 20 jaar” in dié pragtige simmetriese Victoriaanse huis in Voortrekkerweg (oorkant die Dieprivier-sportterrein) gewoon.
Rinkwest sê die huis dateer uit die laat 1800’s en dit word ook in die erfenisopname as van uitsonderlike geskiedkundige belang beskryf.
“As ek reg onthou, is dit Bromfields wat die huis gebou het.”



“Die Du Toits het lank daar gewoon en Bumper Smit en ek het dit gekoop by Ant Mary Burger (‘n nooi Jackson).”
Hy vertel dat hulle destyds gesê het daar was gewere in die oorlogtyd onder die huis weggesteek.
“Ek het in een vertrek afgegaan, maar die moeilikheid is die fondasies is almal uitgebou, so jy kon nie die hele stuk sien nie en ek het niks gekry nie. Toe het ek gedink om al die vloere te lig, is die kool die sous nie werd nie.”
Die huis is ook in die mark: https://www.pamgolding.co.za/property-details/3-bedroom-house-for-sale-dalsig-malmesbury/1ms1688958
