Toetskans vir kinders vir begaafheid
Die nasionale toesighoudende sielkundige van Mensa Suid-Afrika, Riana de Villiers, besoek die Swartland eersdaags om kinders van die ouderdom van vier en ‘n half af vir begaafheid te evalueer.
De Villiers wat al sedert die 90’s mense en kinders vir Mensa evalueer, verduidelik dat kinders met ‘n IK van 130 en meer as intellektueel begaafd beskou word en van 145 af hoogs begaafd.

Mensa is ‘n wêreldwye vereniging vir mense wat intellektueel in die top 2% van die samelewing toets. Daar is ook ‘n tak in Suid-Afrika.
Sy besoek Riebeek-Kasteel van 3 tot 5 Maart om dié individuele evaluerings te doen.
Dit bied aan ouers die geleentheid om teen ‘n meer bekostigbare tarief hul kinders te laat evalueer sonder groot addisionele reiskoste na Gauteng.
“Om ‘n begaafde kind groot te maak, kan baie uitdagend wees en daarom is ouerleiding belangrik.

Die evaluering word gedoen “sodat ouers die kinders kan ondersteun in hul ontwikkeling sodat hulle besluite kan neem rakende die kinders se opvoeding wat belyn is met hulle vermoëns om hul potensiaal te bereik.
“Ook om insig te verkry in die emosionele en sielkundige samestelling wat uniek is aan die begaafde populasie.”
De Villiers sê versnelde ontwikkelingsmylpale is dikwels ‘n goeie aanduiding van begaafdheid, asook goeie geheue, kinders met ‘n belangstelling in die wêreld om hulle en ‘n smag na kennis.
Hulle behou die kennis en dink daaroor.

Sy voeg by dat iets waarmee die kinders baie sukkel en waarop sy fokus om ouers mee te help, is die trio van eienskappe – sensitiwiteit, intensiteit en perfeksionisme.
“Dit is my missie om ouers te bemagtig met die kennis en insig.”
Die sensitiwiteit, intensiteit en interne strewe na perfeksie, maak dit vir die kinders baie moeilik en van hulle kry dan depressie en angs. Hulle is geweldig hard op hulself en ervaar mislukking eerder as om net na hul heel beste poging en uitnemendheid te streef.”
Kontak De Villiers by 083 448 7420 vir meer besonderhede.
