Lillies lei; Wittewater kook
Met net meer as ‘n derde van die eerste helfte van die 2025-seisoen agter die blad, is Abbotsdale nog stewig in die saal in die Swartland in Boland Rugby se Grootuitdaagliga.
Lillies het Saterdag hul wegwedstryd teen Saron met 31-27 gewen en só verseker dat hul in al vier hul eerste wedstryde die maksimum ligapunte ingepalm het.

Wesbank is naas Abbotsdale die enigste ander onoorwonne span. Hulle het die afgelope naweek ook ‘n wegsege behaal toe hul Moorreesburg met 36-26 geklop het. Wesbank lê tans twee punte agter Abbotsdale in die tweede plek met 18 punte.
Die groot verrassing tot dusver is die vertoning van Villagers Wittewater wat verlede jaar swaar getrek en laag op die punteleer geëndig het.
Hulle het Saterdag op Riebeek-Kasteel hul derde sege behaal toe hul in ‘n spannende wedstryd die tuisspan van Riebeek United met 35-33 geklop het.
Hulle het vroeër hul wedstryde (weg) teen Darling (27-26) en (tuis) teen Voorberg (33-20) gewen en slegs tuis teen Abbotsdale, die verdedigende Swartlandkampioen, vasgeval (29-21).

Dié span uit die Bergrivier beklee tans die derde posisie (14 ligapunte).
Hulle word gevolg deur Good Hopes (13 ligapunte) wat Saterdag in hul wegwedstryd te sterk was vir die tuisspan van Voorberg en gemaklik met 45-13 gewen het.
Darling, wat soos Good Hopes tot dusverr twee van hul vier wedstryde kon wen, het ook 13 ligapunte ná hul wegsege (20-17) Saterdag oor hul bure van Mamre. Die besoekers was rustyd met 10-12 agter en nadat die telling diep in die tweede helfte 17 elk was, kon die Melkboere die oorwinning met ‘n strafdoel verseël.

Mamre en Never Despair het in hierdie stadium beide 12 ligapunte nadat laasgenoemde Saterdag hul tuiswedstryd teen Porterville met 21-10 gewen het.
Saron lê nou in die agtste plek (10 ligapunte), gevolg deur Riebeek United (8), Moorreesburg (7), Porterville (5) en Voorberg (2).
In die komende naweek se ronde kragmetings pak (tuisspanne eerste)
Abbotsdale vir Mamre;
Wesbank vir Goodhopes;
Darling vir Never Despair;
Porterville vir Moorreesburg;
Riebeek United vir Voorberg en
Villagers Wittewater vir Saron.
