FEATUREDSchoolsSports

‘Moorreesburg se mense het hande gevat’ vir nuwe Astro

Die splinternuwe astro-hokkiebaan by die Dirkie Uys Tiere Sportpark op Moorreesburg is vandag geopen.
Die skoolhoofde van Hoërskool en Laerskool Dirkie Uys, Hein Gunter en Francois Smit, het die lint geknip.

Smit het gepraat van die visie en gesê daarsonder sou dit “half onmoontlik wees om die nuwe fasiliteite staan te maak”.
Hy het Braam Hanekom aangehaal wat geskryf het “die toekoms behoort aan hulle wat die skoonheid van drome kan aanvaar”.
Frans Hugo, bemarker van die Hoërskool Dirkie Uys, het gesê: “Vandag vier ons nie net die fisiese ruimte waarop ons speel en oefen nie. Ons vier geleenthede, groei en groei in die gemeenskap.
“Hierdie veld simboliseer meer as net sport. Dit is ‘n plek waar drome begin, vaardighede gaan ontwikkel, spanbou seëvier en dissipline en deursettingsvermoë gekweek gaan word.”
“Hierdie veld is die produk van samewerking en geloof. Van mense wat nie net in sport glo nie, maar in die toekoms van ons jeug.”

By die opening was Boffie Strydom (burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit), Hein Gunter (skoolhoof van Hoërskool Dirkie Uys) en Anton Visagie van Overberg Agri.

Gunter het vertel toe hy in 2017 by die skool gekom het, het hulle die gedagte gehad van ‘n Astro.
Tóé al sou dit R5,2 miljoen kos.
“Ons het gesien ons gaan dit nie kan maak nie. Ons het toe gedink ons kan ‘n halwe baan bou, maar daarmee sou ons ons kele sny.”
Hy en Isabel Crous het ‘n Lotto-werkwinkel bygewoon en daarna “baie papiere ingevul”.
Die eerste keer het hulle nie eers erkenning van ontvangs gekry nie.
Toe het hulle dit nog ‘n keer gedoen. En uiteindelik ná ‘n lang proses is die Lottogeld goedgekeur.

Sedert hul aansoek het die koste van die baan “al weer met ‘n miljoen rand opgegaan.
“Die mense van Moorreesburg het hande gevat. Dié terrein was nie so gelyk nie.”
“Dit het baie vragte grond gekos en boere het met trekkers gekom.

Frans Hugo (bemarker van Hoërskool Dirkie Uys), Isabel Crous en Hein Gunter (skoolhoof van Hoërskool Dirkie Uys).

“Ons het saam met die laerskool geld bymekaar gesit en mense gekry om met groot masjinerie die grond gelyk te maak.
“Nou is dit seker een van die mooiste sportgronde op die oomblik in ons omgewing en ons is baie dankbaar daaroor. Ek hoop ons gaan dit nog verder uitbou. Ons het ‘n droom om nog ‘n paar goedjies te doen.

“As ons die visie kan uitbou, sal die nageslag ná ons en die kinders se nageslag die vrugte kan pluk van hierdie sportgronde. Kinders, daar is ‘n reuse verantwoordelikheid op julle om hierdie fasiliteite te bewaar vir die nageslag wat kom,” het Gunter gesê.

Hein Gunter (skoolhoof van Hoërskool Dirkie Uys), Madelein Groenewald (ondervoorsitter van HDU se beheerliggaam), Corné Rust (voorsitter van HDU se beheerliggaam), Francois Smit (skoolhoof van Laerskool Dirkie Uys), Marnus Kotzé (voorsitter van LDU se beheerliggaam) en Henry Odendaal (ondervoorsitter van LDU se beheerliggaam).

Hy het vir Overberg Agri bedank vir hul groot bydra deur die hele projek met die ontwikkeling van die fasiliteite en ook vir Lotto vir die skenking.
Hy het ook die hele gemeenskap van Moorreesburg bedank en die beheerliggame en ouers van die Hoërskool en Laerskool Dirkie Uys vir hul bydraes.
Ná die amptelike opening het twee gemengde spanne van die skool se huidige eerstespanne, oudskoliere en spelers van die dorp die nuwe fasiliteit ingewy met ‘n vriendskaplike wedstryd.

Leave a Reply

error: Content is protected !!