LatestSports

Wesbank verstewig sy 1ste posisie

Die eerste rugbyspan van die Wesbank Rugbyklub het Saterdag met ‘n oortuigende oorwinning oor die besoekers van Rebeek-Kasteel, Riebeek United, die eerste helfte van die seisoen in die top-posisie op die punteleer afgesluit.

Dié Boland Rugby Grootuitdagkragmeting was die koringboere se 11de van die seisoen en hul sege van 43-17 ook hul 10de oorwinning.
Wesbank het tot dusver net in hul wegwedstryd teen Villagers Wittewater op verrassende wyse vasgeval.
Wesbank geniet nou met 47 ligapunte ‘n voorsprong van ses punte op hul naaste teenstander.

Abbotsdale wat die seisoen goed begin het en vanuit die staanspoor voorgeloop het (soos Wesbank met vyf agtereenvolgende seges), se laaste paar weke het nie so klopdisselboom verloop nie. Hulle moes Saterdag op tuisbodem die derde keer vanjaar sonder ‘n sege van die veld stap, toe Porterville (nou sewende) die kragmeting met 41-39 gewen het.
Lillies beklee tans ná sewe oorwinnings en een gelykop-uitslag die tweede plek op die punteleer danksy 12 bonuspunte in 11 wedstryde – die meeste bonuspunte tot dusver in die Swartlandstreek.
Wesbank het sewe bonuspunte opgestapel.
Saron gaan die tweede helfte van die seisoen afskop in die derde plek op 38 punte. Hulle het ook sewe seges in die eerste helfte behaal nadat hulle die afgelope naweek met Never Despair afgereken het (25-20).

Die vierde span op die punteleer, Good Hopes, het, soos Wesbank, Voorberg en Mamre vroeër die seisoen, Saterdag op Wittewater met 25-37 teen die begeesterde Villagers (nou sesde op die punteleer) hul rieme styfgeloop. Laasgenoemde het vroeër ook wegoorwinnings oor Darling en Riebeek United behaal.
In die ander wedstryde van die naweek het Voorberg (tuis) met 31-49 die knie gebuig voor Darling en Mamre (tuis) het Moorreesburg met 52-44 geklop.
Naas Riebeek United en Voorberg het al die spanne nou elf wedstryde agter die rug. Dié twee spanne se laaste ronde is vroeër uitgestel na komende Saterdag, terwyl die ander spanne ‘n blaaskans neem tot die aanvang van die tweede helfte van die seisoen.

Leave a Reply

error: Content is protected !!