Riebeek United verras teen Abbotsdale
In een van die grootste verrassings in die Swartlandafdeling van Boland Rugby se Grootuitdaag het Riebeek United Saterdag vir Abbotsdale, tot nog die naasbeste in die kompetisie vanjaar, met ‘n loesing terug huis toe gestuur.

Die tuisspan, wat nog nie die seisoen veel hond haaraf kon maak in dié kompetisie nie, het vriend en vyand verras en met 36-33 gewen. In die twee spanne se vorige kragmeting vroeër vanjaar het Abbotsdale op hulle tuisveld met 44-41 geseëvier.
Riebeek United is tans voorlaaste in die liga in die elfde plek.
Die loesing het Abbotsdale laat afskuif na die derde plek.
Beide spanne het egter saam met Porterville en Voorberg nog een meer wedstryd om te speel as die ander agt spanne.

Die voorlopers, Wesbank, het Saterdag in die tweede helfte van hul derbykragmeting teen Never Despair net te veel skietgoed gehad en Spairs het uiteindelik met 19-43 vasgeval. Die wedstryd het oudergewoonte groot belangstelling gaande gehad. Wesbank het vyf ligapunte verdien.
Die span van Saron was voor die naweek nog in die derde plek. Hulle het hul tuiswedstryd teen Darling met 37-30 gewen en ook vyf ligapunte verdien om nou tweede te lê.

Op Moorreesburg het die tuisspan genoeg gedoen om Good Hopes van Riebeek-Wes met 37-31 te klop.
Mamre (4de op die punteleer) was op hul beurt op hul tuisveld ook te sterk vir Porterville en het die kragmeting met 48-20 gewen.
Villagers Wittewater het ook vyf ligapunte by hul totaal gevoeg toe hulle Saterdag tuis met 37-22 oor Voorberg geseëvier het.
Wittewater is tans 5de op die punteleer.
Volgens die bepalings vir die komende naweek, speel die ligavoorlopers, Wesbank, gasheer vir Moorreesburg.
Abbotsdale speel tuis teen Saron en Porterville ontvang die spanne van Never Despair.
Darling kom tuis in ‘n derbykragmeting teen Mamre te staan.
Die ander twee wedstryde is dié tussen Villagers Wittewater (tuis) teen Riebeek United en Good Hopes (tuis) teen Voorberg.
