#𝒘𝒐𝒓𝒍𝒅 – Willemse sluit gesprekke oop
Stal uit by Pictorex tydens Solo Studios
johan viljoen
Ons sit in Beans en drink koffie.
Ons gesels lank.
Die dorpie Riebeek-Kasteel is klein, maar baie om oor te gesels.
Die binne- en buitewerke – politiek en Politiek.
Rudolph Willemse is ‘n inwoner, ‘n deurwinterde regsman, wetskrywer, woord- en fotografiekunstenaar.
Al heelwat gereis. Denkend en meningryk soos ‘n mens sal verwag.
Ons gesels oor gesondheid en die uitdagings van die tuimeltreinrit van medikasie in die later jare.
Oor ons dorpie en van sy mense…

Hy het pas ‘n nuwe koffietafelfotoboek #world met ‘n beperkte oplaag die lig laat sien.
Sy derde.
Die vorige twee was abstractions en #roadtrip.
Fotokuns-én-Fotodokumentasie. Amper soos Swart-en-Wit, maar eintlik moet dit eerder lees “Swart-tot-Wit”. Fotokuns-tót-Fotodokumentasie.
Ek gaan blaai tuis weer deur albei boeke.
Beide werklik baie besonders. Bydraboeke.
Ons praat nou oor nalatenskap en dan dwaal die gesprek na prioriteite en wat is belangriker. Hy gesels oor ‘n familie-album wat hy aan werk. “Kosbare juwele” en dokumentasie vir die kinders en kleinkinders.
Maar abstractions en #roadtrip val ook in daardie kategorie, net vir die wyer familie – ek en jy.
Juwele wat gesels.
Straks gee abstractions met ‘n fokus op oppervlakke – stille waters, seewater, mure en verweerde advertensieborde – die kyker meer vrye teuels, terwyl #roadtrip jou neem op binnelandse reise deur meer bekende plekke – nuut bekyk, belig.

Toe ek en hy ‘n goeie klompie mane gelede in hul tuin sit en koffie drink, gesels ons oor sy derde (toe nuwe) digbundel – swartland.
Woorde wat werk. Woorde wat ook maar reis. Die pad vat. Weer tuis kom en dan na binne, dieper delf – half donkerder, swarter word. Straks die beste van sy drie bundels (voorheen Kweekskool – 1982 en Middelman – 2005). Verbeel my hy het ook so gevoel.
Ons blaai nou deur #world – dié keer ‘n fotografiese wêreldreis (needless to say) – die groter en die kleiner wêreld daarbinne.


#world besoek Barcelona, Usakos; Parys en Corfu; Southhampton en Buenos Aires; Times Square; Lissabon, Wene, Molyvos, Venisië, Marokko, Madrid, Dakar en vele meer.
‘n Uittreksel – reise oor bykans twee dekades – maar deur die geleefde oë van soveel langer. Willemse lig elke foto toe. Die storie, die hoekom. ‘n Fantastiese reis.
Temas.
Konsepte.
Foto’s wat met mekaar praat.
Dikwels teenstellings in gedeelde grond.
Stiltes en geraas in die breë konteks.
Teenwoordig en afwesig.
Nou en gister.
Binne, maar dan ook buite. “Maybe the beauty is outside.“
Die spirituele.

#world is straks die beste van Willemse se (eerste) drie koffietafelfotoboeke.
Ons gesels oor ‘n tweede beker Beans oor verandering.
Toe ons tien jaar gelede op Riebeek-Kasteel gekom het, was dit nog plaas, sê hy.
Nou is dit anders.
Ons praat oor die jare en ook die stryd vandag tussen by te bly en die weerstand om terug te druk.
Ironies dan seker die moderne # van #roadtrip en #world. In #world is daar selfs ‘n (venster)selfie.
Willemse neem aanstaande naweek (24-26 Oktober) aan vanjaar se Solo Studios op Riebeek-Kasteel deel.
Sy abstrakte werke maak deel uit van die uitstalling by Pictorex in Royalstraat saam met werke van, Lara da Silva, Laurel Heritage, Louisa Gerryts, Mary Walker, Pippa Lea Pennington, Tanya Majo en William Walker.
Printed @ Pictorex 2025
Op sy webwerf rudolphwillemse.co.za is daar oopvalhofies. “Portfolio” is een. Daar kan jy saam met Willemse reis deur ‘n keur van sy werk – abstractions, #swartland, #weskus, #roadtrip en #world.
Die laaste hofie sê: People
Daar is onder andere foto’s van Johannes Kerkorrel (hulle was vriende op universiteit.)
“… ons sit in die son en drink wyn
“ons survive met ‘n helse lot pyn…“

*Een van die ander uitstallings by Solo Studios waarby Willemse instrumenteel was om dit na die Swartland te bring (Ek wil nie hê jy moet my naam daarby noem nie, juis omdat die hoofrolspelers en die belangrikheid van die hoë gehalte van die uitstalling die aandag moet kry.), is LANDscape[s]: Kunswerke uit die MAPSA-versameling van kontemporêre kuns.
Die uitstalling, saamgestel deur die bekroonde Miné Kleynhans van die Universiteit van die Vrystaat, is ‘n samewerking tussen Modern Art Projects South Africa (MAPSA), die Kunshuis en Solo Studios. Dit is ‘n keur van werke uit die MAPSA-versameling van kontemporêre kuns wat in Richmond, in die Noord-Kaap, geleë is.
MAPSA is gestig deur Harrie Siertsema en kunstenaar/kurator Abrie Fourie.
Die uitstalling sluit ‘n wye reeks werke van Suid-Afrikaanse (ook van Riebeek-Kasteel) en internasionale kunstenaars in.
LANDscape[s]
Willemse sê hy sien uit na dié uitstalling en is veral bly dat konseptuele kuns nog deel uitmaak van die Solo Studios wat in sekere opsigte die gevaar loop om meer ‘n kommersiële “village art fair” te raak.
Fourie en Kleynhans sal ook Saterdagoggend 25 Oktober om 11:00 by die Kunshuis gesels oor MAPSA en die werk wat hulle in Richmond doen.
