‘Styging in lam- en wolpryse verblydend’
Avonturier gesels oor sy wedervaringe
Die prys van lamsvleis het die afgelope jaar met ongeveer 25% toegeneem. Skaapvleis se prys het ook met tussen 25% en 30% gestyg.
Só het Eben Schellink, voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep, gesê by die groep se gesamentlike jaarvergadering met die koringstudiegroep.
Die nuwe bestuurslede is ook by die geleentheid verkies.

Schellink het gesê ‘n “jaar gelede was die prys van geslagte lammers rondom R85/kg. Oor die feestyd in Desember het dit opgegaan na rondom R100/kg en nou is dit rondom R107/kg.
“Die hoofrede vir die prysverhoging is die uitvoermark.
“So dit is ‘n mark wat ons moet probeer beskerm en bevorder.
“Ons sal moet begin konsentreer daarop om naspeurbaarheid en biosekuriteit te verbeter, sodat ons daardie mark kan beskerm,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê wolpryse was van verlede jaar tot ‘n paar maande gelede baie konstant, “maar sedert September het die prys op veilings ook met min of meer 25 persent gestyg.
“Dit is natuurlik baie verblydend, want nou het beide die vleis- en wolpryse die afgelope jaar met 20% plus opgegaan.”
Schellink het gesê die rede vir die wol “wat nou ‘n bietjie beter doen, is die aanbod wêreldwyd van wol het minder geword. Australië lewer heelwat minder wol. Hulle is eintlik maar die prysbepalers omdat hulle so baie wol in die mark sit.”

John Dürr, voorsitter van Agri Malmebury, het by die vergadering gesê veediefstal in die omgewing het aansienlik afgeneem nadat daar sukses was met inhegtenisnemings.
Pastoor Japie du Bruyn het die verrigtinge vroeër geopen. Hy het gesê om te boer is nie net ‘n beroep nie, maar eerstens ‘n roeping.
Du Bruyn het, op die vooraand van die oes, die boere bemoedig: “Hou aan ploeg, hou aan glo en hou aan hoop, want God is in die oes.”
Die gasspreker van die aand was die onverskrokke avonturier Riaan Manser.
Dié gebore Pretorianer, ook skrywer en spreker, was 20 jaar gelede die eerste mens om Afrika se hele kuslyn op ‘n fiets kaf te trap.
Dit het hom presies twee jaar, twee maande en vyftien dae geneem, alleen en sonder hulp – ‘n verstommende 34 500 kilometer deur 34 verskillende lande waarvan sommige as van die gevaarlikste en onherbergsaamste plekke op aarde beskou word.

Hy het by die vergadering vandeesweek vertel van van sy wedervaringe – ontberinge sonder tal, sandstorms, sy tyd in ‘n tronk in Ekwatoriaal-Guinee en ook as gyselaar in Liberië.
In 2009 word hy ook die eerste mens wat solo in ‘n kajak om Madagaskar kon roei. Dit was ‘n tyd van uiterste politieke onrus daar en hy het 5 keer in die tronk beland – onder andere verdink van huursoldaataktiwiteite.
In 2011 – ook in ‘n kajak – roei hy saam met Dan Skinstad, wat ‘n serebrale gestremdheid het, in ysige toestande reg om Ysland. Hiervoor het hy ‘n week lank in ‘n koelhouer by minus 20ºC geleef as voorbereiding vir dié avontuur.
Nog twee jaar later was dit tyd vir nóg ‘n wêreld-eerste.
Dié keer roei hy vir bykans ses maande saam met Vasti Geldenhuys (hulle was toe al 14 jaar saam) in hul boot (6,4 meter lank en 1.2 meter wyd) die Atlantiese Oseaan (10 765 kilometer) van Afrika (Marokko) na New York.

Ná hul troue in Kaapstad gaan roei hul toe vir hul wittebrood nóg ‘n groot avontuur. In dieselfde boot. Dié keer op die Stille Oseaan in ‘n wêreldrekordtyd van Monterey in Kalifornië na Honolulu in Hawaii – 4 023 km in net 39 dae.
Manser het al Kilimanjaro geklim, die Sahara getem, op aap-, rot- en vlermuisvleis oorleef en al ‘n hiëna in Ethiopië mond-tot-mond gevoer.
Hy het vandeesweek het gesels oor die maklike pad en die moeilike pad. “Jy moet ‘n bietjie dapper wees om te sê ek gaan die moeilike pad vat.”
Dan is daar deursettingsvermoë. “Almal wil deesdae iets onmiddellik hê, maar alles wat waardevol is in jou lewe is, het tyd gevat. Jy kan nie met my stry nie.”
Manser het ook gepraat van ‘n mens se houding/ingesteldheid.


“Ek wil net vir julle aanmoedig. Jy voel altyd alleen as dinge nie goed gaan nie. Dit is so moeilik om deur tye te kom as jy alleen voel. Jy moet onthou ander gaan deur dieselfde en alles gaan verby. Jy moet beheer vat van jou houding, want die situasie gaan nie verander nie.”
Die aand is deur Bayer geborg.

