Buitelugskou nou om die draai
SA 4×4 & Outdoor Show Wes-Kaap
Maak gereed vir opwindende buitelug-aktiwiteite en -uitstallings by vanjaar se SA 4×4 & Outdoor Show Wes-Kaap aanstaande naweek op Ysterplaat.
Die eerste keer verlede jaar was ‘n treffer en nou keer dié buitelugskou op 1 en 2 November terug na die Ysterplaat Lugmagbasis waar dit in samewerking met M-Net aangebied word.

Ontmoet en ry op ‘n uitdagende terrein saam met André de Villiers, aanbieder van die gewilde program 4×4 met André op kykNET.
Besoekers kry ook die kans om saam met Mosselbaai Helikopters te vlieg en ‘n ander blik uit die lug te kry.
Dit is die gulde geleentheid om die insiggewende loopbaanuitstalling van die Lugmag te besigtig. Die Lugmagmuseum se uitstallings is ewe gewild en moenie die kans laat verbygaan om die “Shackleton run” (waar dié historiese vliegtuie aangeskakel word) mee te maak nie.

Al is dit nie ‘n lugskou nie en val die fokus op die buitelugleefstyl, mag daar, onderhewig aan operasionele beskikbaarheid, wel straks beperkte lugvertonings wees.
Maak ook seker om die kunsmark en deli te besoek of ontspan in die 1659-wyntuin. Daar is heerlike lekkernye en kos met talle gekeurde kosverskaffers en ook ‘n kroeg en biertuin vir die droë kele. Vir die jonger garde is daar ‘n speelpark vir volop pret.

Verskeie sangers tree ook oor die twee dae op die Jimmy’s Sauces-verhoog op – Blackie Swart, Nic Stevens, Viljoen Retief en orkes, Nadia Louw en Brandon Miles en orkes.
Die ure is van 09:00 tot 17:00 op beide dae en toegang wissel van R80 tot R150 per persoon vir dagbesoekers, met naweekpakkette wat ook beskikbaar is. Kinders van vyf jaar en jonger kry gratis toegang.
Kaartjies is aanlyn by Open Tickets, maar ook by die hekke beskikbaar.
