Sogenaamde ‘cottage schools’ is ‘nie wettig nie’
WKOD oor die opsies en verpligtinge op ouers
Met nog ‘n skooljaar wat eersdaags eindig, kyk ouers deurlopend na hul kinders se skoolopleiding en die opsies en verantwoordelikhede – ook die wetlike aspekte.
dié courant het by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangeklop met ‘n klompie vrae wat dikwels opduik.

Wat is die wetlike verpligting op elke ouer om te verseker dat hul kinders skolastiese onderrig ontvang – ook met betrekking tot skoolgaande ouderdom (van watter ouderdom tot watter ouderdom)?
Elke ouer of voog moet verseker dat elke kind in hul sorg skool bywoon, beginnende vanaf Graad R op die eerste skooldag van die jaar waarin sodanige leerder die ouderdom van 6 jaar bereik, en voortgaan om skool by te woon tot die laaste skooldag van die jaar waarin sodanige leerder die ouderdom van 15 jaar bereik of Graad 9 voltooi, wat ook al eerste plaasvind.
Wat is die alternatiewe vir hoofstroomskole binne die wet? Met ander woorde, as die kind nie in ‘n staatskool is nie, watter ander skolastiese onderwysmodelle is wettig:
Privaatskool? Tuisonderrig? Aanlynskool? Sogenaamde “cottage schools”? Is daar enige ander wettige alternatiewe?
In Suid-Afrika is daar alternatiewe vir hoofstroomskole vir onderwys:
Privaatskole: Onafhanklike instellings wat buite die openbare skoolstelsel funksioneer en wat by die onderwysdepartement geregistreer moet wees.
Tuisonderrig: Indien ouers wie se kinders verplig is om ‘n skool by te woon (Grade R – 9), nie wil hê dat hulle ‘n openbare of geregistreerde onafhanklike skool bywoon nie, kan hulle aansoek doen vir goedkeuring om tuisonderrig te doen.
Aanlynskole: Hierdie skole bied onderwys deur digitale platforms en laat kinders toe om op afstand te leer. Hierdie instellings is egter nie by die onderwysdepartement geregistreer nie, aangesien daar geen wetgewende raamwerk is om hulle te registreer nie. Hulle funksioneer as private diensverskaffers wat hul aanlynkurrikulum verkoop aan ouers wat tuisonderrig doen.
Sogenaamde “cottage schools”: Klein, dikwels informele onderwysomgewings waar ‘n groep leerders saam onderrig word, tipies deur ‘n gekwalifiseerde opvoeder. Hierdie tipe skole is egter nie wettig nie, aangesien daar geen wetgewende raamwerk is om hulle te registreer nie. Hulle moet voldoen aan die vereistes vir registrasie as ‘n onafhanklike skool.
Afstandsonderrig: Dit laat leerders toe om van die huis af te studeer met materiaal wat deur instellings verskaf word (aanlynskole). Hierdie tipe onderwys is nie wetgewend nie en dit is die keuse van ouers wat goedkeuring vir tuisonderrig het, om daarvan gebruik te maak.
Hierdie alternatiewe moet voldoen aan die regulasies wat in die Suid-Afrikaanse Skolewet uiteengesit word om te verseker dat hulle as wettige vorme van onderwys erken word.

Wat is die basiese vereistes waaraan ‘n privaatskool moet voldoen – insluitend die minimum aantal leerders en opvoeders? Met ander woorde, hoe kan ouers absoluut seker maak dat dit ‘n wettig geregistreerde skool is?
Die skool moet by die betrokke provinsiale onderwysdepartement geregistreer wees.
Daar is tipies ‘n minimum vereiste van aantal leerders. Dit verskil van provinsie tot provinsie, maar oor die algemeen moet ‘n privaatskool ten minste 20 leerders hê.
Die skool moet ‘n voldoende aantal gekwalifiseerde opvoeders in diens hê wat by die raad vir opvoeders geregistreer is, gewoonlik ten minste een opvoeder vir elke 20 leerders.
Die skool moet voldoen aan die regulasies wat in die Suid-Afrikaanse Skolewet uiteengesit word, insluitend gesondheids- en veiligheidstandaarde.
Ouers kan versoek om die skool se registrasiesertifikaat by die onderwysdepartement en ander relevante dokumente te sien om die wettige status daarvan te bevestig.
Om te verifieer of ‘n skool geregistreer is, kan ouers die provinsiale onderwysdepartement kontak of hul webwerf besoek vir meer inligting.

Wat sê die wet oor tuisonderrig? Word ouers toegelaat om tutors te kry om die skool namens hulle te bestuur, of moet die ouer dit self doen?
Die wet laat ouers toe om hul kinders tuisonderrig te gee, maar hulle moet voldoen aan die relevante wetgewing, spesifiek Artikel 51 van die Suid-Afrikaanse Skolewet.
Ouers is primêr verantwoordelik vir die onderwys van hul kinders en moet verseker dat die onderwys wat verskaf word, aan die vereiste standaarde voldoen.
Tuisonderrig kan tutoriale of ander opvoedkundige ondersteuning – wat deur die ouer verkry word op spesifieke areas van die kurrikulum wat deur die leerder gevolg word – insluit, indien nodig. Die uiteindelike verantwoordelikheid vir die kind se onderwys bly egter by die ouers.
Ouers moet hul kind vir tuisonderrig by die provinsiale onderwysdepartement registreer en die voorgeskrewe prosedures volg.

Is daar enige regulasies oor kurrikulums/’n lys van goedgekeurde kurrikulums of kan ouers enige een kies?
Ouers wat kies om hul kinders tuis te onderrig, het die buigsaamheid om ’n kurrikulum te kies; die onderwys wat verskaf word, moet egter aan sekere standaarde voldoen.
Die onderwys moet ooreenstem met die minimum vereistes van die kurrikulum wat in openbare skole gebruik word en moet nie minderwaardig wees aan die onderwys wat in hierdie skole verskaf word nie.
Ouers kan enige kurrikulum kies wat hulle glo geskik is vir hul kind, solank dit geskik is vir die leerder se ouderdom, graadvlak en vermoë en hoofsaaklik die verkryging van inhoud en vaardighede dek wat ten minste vergelykbaar is met die relevante nasionale kurrikulum wat deur die minister bepaal is.

Is daar ’n stelsel in plek wat tuisonderrig reguleer – wat verseker dat ouers hul kinders werklik onderrig of laat onderrig?
Van ouers word vereis om rekord te hou van hul kind se vordering en die kurrikulum wat gebruik word en om te reël dat die leerder se opvoedkundige prestasie deur ‘n bevoegde assessor geassesseer word.
– aan die einde van elke fase, tot die einde van die jaar waarin die leerder die ouderdom van 15 jaar bereik of Graad 9 voltooi, wat ook al eerste plaasvind; en
– teen ‘n standaard wat nie minderwaardig is aan die standaard wat in die Nasionale Kurrikulumverklaring bepaal word nie; en
– moet aan die einde van elke fase en as bewys van die leerder se opvoedkundige prestasie, die leerder se assesseringsverslag, onderteken deur die bevoegde assessor, aan die departementshoof voorlê.
