Voorsmakie van Darling Whiskey-naweek
johan viljoen
Die eerste volwaardige Darling Whiskey-naweek vind van 20 tot 22 Maart 2026 plaas.
Dié konsep is in September vanjaar reeds vir die vierde keer op McGregor aangebied.
‘n Naweek vir whiskey-aanhangers, fynproewers en nuuskierige nuwelinge met saamgestelde proeë, meesterklasse en meer.

Die Darling Whisky Weekend se datum is aangeskuif, maar die afgelope naweek het ons ‘n voorsmakie gekry van dié unieke ervaring.
Op die warm Saterdagmiddag in die Swartland waai ‘n groot (half industriële) verkoelingswaaier in die hoek om dié gedeelte van die groot proelokaal darem effe af te koel.
Die tafel is gedek met twee rye proestelle, en die ingevoerde produkte reeds geskink.
Op die punt van die tafel staan die ses bottels uit Asië.
In die agtergrond is dit ‘n gewone Saterdag in die proelokaal van Darling Brew. Lang glase bier en mense eet en kuier lekker saam.
By een tafel sit twee mense met ‘n papegaai. Die papegaai het ‘n breë plastiekring om die nek en lyk effe olik, maar eet ook saam.

Heel voor by die trap staan ‘n tafel met twee glase en ‘n bottel Reminisce of ses. Reminisce is Darling Brew se eie 5 jaar-oud whiskey wat vroeër vanjaar bekendgestel is. Gemaak van bier wat nie tydens die Covid-inperkings verkoop is nie. ‘n Versamelaarswhiskey met slegs 600 bottels.

Terug by die proetafel.
Hector Mc Beth is ‘n gerekende en deurwinterde whiskey-kenner en ook eienaar van die Whisky Shop in Rondebosch. Hy gaan ‘n meestersklas, getiteld Jewels of the East, aanbied.
Whiskies uit die Ooste.
Om die tafel is ‘n gesellige (selfs geselserige) groep mense – sommige van Darling, Yzerfontein asook elders in die Swartland en uit Kaapstad.
Die kundige Mc Beth neem ons op ‘n blitsreis van drie distilleerderye – eers een intreevlakproduk van elk en dan na meer komplekse whiskies.
Hy delf ‘n bietjie in die interessante geskiedenis van elke distilleerdery, die faktore wat hul produksie geïnspireer en beïnvloed het en die kuns van whiskey-waardering en hoe om verskeie geure te identifiseer. Ook vermengde mout teenoor enkelmoutwhiskey.

Ons skop af met ‘n Japannese Nikka Days (gebaseer op die konsep van whiskey vir elke dag). Sag en ook besonder lig van kleur. Nikka Days is ‘n versnit van enkelmout- en graanwhiskies van Nikka se hoofdistilleerderye, Yoichi en Miyagikyo.
Toe besoek ons die Goa-distrik aan die weskus van Indië met die ongeveende Paul John Nirvana. Gemaak van die Indiese 6-ry gars en verouder in Amerikaanse eikehoutvate.
Daarna kies ons koers na die dorp Indri naby die voetheuwels van die Himalajabergreeks in die noorde van Indië en proe die bekroonde sagte enkelmout Indri Triple Cask. Dit is verouder in drie verskillende soorte vate – ou bourbon-, ou Franse wyn-, en ou Pedro Ximénez-sjerrievate. Die distilleerdery is in besit van Piccadily Distilleries.
Hierna besoek ons elke distilleerdery weer, dié keer vir die voller produkte – en inderdaad meer kompleks op die smaakbekers.
Nikka Yoichi, Indri Dru Cask (57.2% alkohol per volume) en Paul John Cask 6013.

‘n Blitstoer, maar totaal uiteenlopende smaakervarings in dié kort tydjie. Ligter en swaarder – een ook swaar geveen (“peated” soos die whiskeymense dit noem) met daardie kenmerkende “berookte” karakter.
Langs my sit Johann Human van Riebeek-Wes. Ons ruil indrukke – beide van ons se eerste bekendstelling aan Indiese whiskies. Ons leer baie, is ons dit eens. ‘n Verrassing of twee, maar die swaarste van die swaarder drie is nog vir ons effe aan die swaar kant.

Ná daardie laaste glas, Mc Beth se gunsteling (die vat wat hy self met die hand in Indië gaan uitsoek het vir ons mark – vat No. 6013 van Paul John), word daar nog lank gesels oor die unieke ervaring en vloeibare verrassings uit die Ooste voor sommige gaste vertrek na die volgende Johnnie Walker-meesterklas elders in die dorp.
