LatestSports

Lillies veg terug, klop Hillcrest

Heinrich Robertson
Die Abbotsdale Rugbyklub se eerstespan het Saterdag hul voorseisoense veldtog op ’n hoë noot afgesluit toe hulle Hillcrest van Wellington in ’n opwindende kragmeting met 41–31 geklop het.
Die twee spanne se vorige ontmoeting was in Oktober verlede jaar in die 2025 Sanlam Boland Top-12 op Pelikaanpark. Dié wedstryd het dramaties geëindig toe die besoekers nog tot die einde alles in die stryd gewerp het met ‘n drie in die 80ste minuut. Die tuisspan het die kragmeting met 1 punt gewen het.

Die afgelope Saterdag was daar weer vonke vanuit die staanspoor, met albei spanne wat op Lillies se tuiseveld gewys het hulle is reg vir die nuwe seisoen.
Hillcrest het die tuisspan vroeg onder druk geplaas en vinnig ’n voorsprong van 12-0 opgebou. Lillies moes hard werk om weer momentum te herwin, maar stelselmatig teruggeveg om die telling tot 17–14 te verklein.

Lillies veg terug, klop Hillcrest
Ethan Diston slaan ‘n bres in Saterdag se kragmeting teen Hillcrest. Foto: Abbotsdale RFC Media

Met die wedstryd wat teen ’n hoë tempo gespeel is, het Abbotsdale se aanvallende struktuur en kliniese afronding uiteindelik die verskil gemaak. Hul vasberade terugvegpoging het tot ses goeie drieë gelei.
Die driedrukkers vir Abbotsdale was Ethan Diston, Bevan Abrahams, Hylan Appollus, Millroy Isaacs, Samkelo Siyo en Larico Visagie.

Die vertoning teen Hillcrest sal die afrigtingspan bemoedig, veral met die span se vermoë om onder druk kalm te bly en geleenthede doeltreffend te benut.
Die tweedespan het op hul beurt ’n stewige sege van 22-14 behaal. Hul gedissiplineerde spel en vaste verdediging het verseker dat Hillcrest nie maklik kon deurbreek nie.
Ook die derdespan het ‘n suksesvolle dag gehad met ’n sege van 21-12 oor die besoekers.
*Abbotsdale speel die komende naweek in die Mayoral Cup op Moorreesburg voor die liga op 7 Maart afskop.

Leave a Reply

error: Content is protected !!