LatestSports

Aksiebelaaide Swartland Tydren vandag en môre beslis

Die wiele gaan tol en die klippe/modder gaan spat wanneer die bykans 40 deelnemende spanne vanmiddag en môre sake sal uitspook om die louere in die Swartland Tydren wat in die Riebeekvallei en om Malmesbury plaasvind.
Dié tydren is ook die tweede been van vanjaar se Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap.

Onder die vol veld inskrywings tel die Namibiese deelnemers Wilro Dippenaar (Ford Fiesta 1.6T 4×4, No. 77) en Wido Bartsch (Toyota Yaris S2000 4×4, No. 13), asook die Swartlanders Juneyed Edas (Toyota Tazz 1600cc, No. 466), Inus du Plessis (BMW E36 3200cc, No. 461) en ander bekende jaers soos die Weskusser Werner Koekemoer (BMW E36 3200cc, No. 474), Mark Jones (Toyota Yaris GR 1.6T 4×4, No.23), die verdedigende SA kampioen Benjamin Habig (Volkswagen Polo 2,0T 4×4, no. 1), Kent Rutherford (Volkswagen Polo 1600cc, No. 33) en Chris Coertse (Mazda 2 1.6T 4×4, No. 3) wat dié tydren in 2024 gewen het en in vanjaar se eerste ronde tweede geëindig het.

Die twee dae se skofte sluit weer ‘n verskeidenheid uitdagende padtoestande in met gedeeltes wat die jaers se tegniese vaardighede behoorlik sal beproef.
Vandag se dienspark is by die Hermitake-padstal naby Hermon. Die eerste jaers in die eerste skof spring volgens die program vanmiddag om 14:02 buite Riebeek-Wes weg.
Môreoggend spring die jaers volgens die program kort ná 09:00 by Malmesbury Toyota weg en die dag eindig by die Hoërskool Swartland.

Die organiseerders het die boere wat hul plase vir die tydren beskikbaar stel, bedank. Hulle is Derrick Becker, JP Bester, Pieter Bester Jnr, Pierre Blake, Gerry Damp, Truter de Kock, Pieter du Toit, Stefanus du Toit, Stephanus du Toit, Richard Hewett, Wiekus Jonck, Gideon Joubert, Paul Lambrechts, Frederick Le Roux, Lodewyk Lesch, Oubaas Lesch, AJ Louw, Bous Serdyn, Etienne Serdyn, Nickie Serdyn, Johan Smuts, Michiel Smuts, Cassie Steyn, Jacobus Truter, Sue-Ann van Jaarsveld, Fred Walters en Thys Walters.

Leave a Reply

error: Content is protected !!