Kommentaar oop vir gewysigde “Springbok Hill”-ontwikkeling
Die bestrede planne om die geliefde “Springbok Hill” op Riebeek-Kasteel te ontwikkel, is nou sodanig aangepas dat die Riebeekvallei Belastingbetalersvereniging (RVRA) dit grotendeels ondersteun. Die plan is om die perseel van ongeveer 11 ha vir gemengde gebruik te ontwikkel.

Die voorsitter van die RVRA, William Pulles, vertel aan dié courant dat daar nou slegs enkele kleiner haakplekke oor is.
Hulle het vasgeskop en ‘n span van kundiges van die vallei met kollektief meer as 400 jaar se ondervinding op verskeie relevante terreine saamgestel om op ‘n pro bono basis die aanvanklike planne teë te staan.
Pulles verduidelik dat hulle nie in beginsel teen ontwikkeling van die terrein gekant is nie, maar hulle het op verskeie gronde hakke ingeslaan teen die planne om onder meer ‘n nuwe winkelsentrum en motorhawe teen Kerkstraat (die R311) by die ontwikkeling in te sluit.
Dié planne is nou volgens die nuutste omgewingsimpakdokumente, waarop tans kommentaar gelewer kan word, laat vaar en het plek gemaak vir slegs ‘n kleiner padstal-tipe winkel.
Die visuele impak en die vistas vanaf die R311 om steeds onbelemmerd oor die vallei te kan kyk en die NG Kerk se toring te kan sien, was ook een van die plaaslike span kundiges se vereistes. Dit het beteken dat die planne vir die ontwikkeling sodanig aangepas moes word dat die geboue laer is met uitsig bo-oor die geboue se dakke.
“Van die dorp af moet die bopunt van die koppie ook sigbaar wees.”

Die planne om deurverkeer deur die ontwikkeling toe te laat om Fonteinstraat met die R311 te verbind, was van die ander aspekte wat deur die RVRA teengestaan en nou gewysig is. Besoekers en inwoners aan die onderste helfte van die voorgestelde ontwikkeling sal dus deur die dorp moet ry en via Fonteinstraat (twee ingange) tot die onwikkeling toegang kry. ‘n Moontlike ingang later vanuit Hoofstraat word ook in die vooruitsig gestel.

Die ontwikkelingsplanne sluit onder meer losstaande aftree-eenhede en ‘n mediese sorgsentrum in.
Dit maak ook voorsiening vir ‘n gebou met pasgemaakte lokale/ateljees en handelspasies waar kunstenaars en ander vakmanne hul ambagte op die grondvloer kan beoefen, hul produkte aan die publiek kan vertoon/verkoop en bokant hul ateljees woon. Dit sal ook op die onderste (oostelike) gedeelte van die ontwikkeling wees.
Onder die ander aanvaarde voorstelle was dat die ontwikkeling van só ‘n aard is dat voetgangers vanuit die dorp se sakekern tot by die onderskeie komponente kan stap.
Pulles sê die ontwikkelaar het die meeste van hul voorwaardes nou nagekom.
“Dit was vir ons belangrik dat die ontwikkeling ook toeriste sal terugbring dorp toe.
“Ons wou hê toeriste moet via die dorp kom, anders is dit nie tot voordeel van die dorp se sakekern nie.”
Die huidige plan is vir ‘n glipbaan op die R311 van die noordekant (noord van The Barn) na die aftreeoord en omliggende erwe, terwyl die hooftoegang tussen The Barn en Het Vlock Casteel sal wees.
Pulles vertel die ontwikkelaars moes die aanvanklike aansoekproses terugtrek omdat die RVRA die fundamentele feitefoute daarin uitgewys het. Hulle het daarna met die eerste omgewingsimpakstudie begin.
In baie gevalle, voeg Pulles by, maak ontwikkelaars dikwels daarop staat dat die betrokkenes wat dit teenstaan, later boedel oorgee en wegstap, maar “ons het nooit opgegee nie”.
“Ons het oor ‘n tydperk van minder as 18 maande by die 2 000 bladsye met baie tegniese inligting deurgewerk en in reaksie meer as 600 bladsye geskryf.”

Die RVRA is ook Erfenis Wes-Kaap se verteenwoordiger in die Riebeekvallei. Pulles sê Erfenis Wes-Kaap het verlede jaar ‘n span erfeniskenners na Riebeek-Kasteel gestuur en ‘n volledige verslag saamgestel voor hul uitspraak gelewer en die ontwikkeling in sy spore gestuit het.
Die ontwikkelaar moes groot verandering aan die planne aanbring en het intussen ‘n nuwe omgewingskonsultant aangestel vir die gewysigde plan.
Met die gewysigde plan is die digtheid verlaag sodat daar nou ongeveer 40 persent paaie of oop ruimte, waaronder die kruin van die koppie, beplan word.
Luidens die jongste planne sal die ontwikkeling bestaan uit:
50 alleenstaande woonerwe wat wissel in grootte tussen 428 m² en 2518 m² met ‘n totaal van 40 989 m² (39.2%),
24 dorpshuiserwe (aftree-oord) wat wissel in grootte tussen 237 m² en 582 m² met ‘n totaal van 7 031 m² (6.7%),
7 sone 3-erwe (gesoneer as residensieel sone 3 vir woonstelle) wat wissel in grootte tussen 689 m² en 2082 m² met ‘n totaal van 8 038 m² (7.7%),
1 sakesone 1 erf (vir die padstaltipe winkel) met ‘n grootte van 172 m²,
1 erf gesoneer as oordsone vir ‘n onthaal(trou)sentrum 7 603 m² en
8 private oopruimtes met ‘n totale oppervlak van 26 396 m² (25.3%).

Die aanvanklike planne het die volgende ingesluit:
60 alleenstaande woonerwe met ‘n totaal van 40 989 m² (37%),
56 dorpshuiserwe met ‘n totaal van 16 281 m² (15%),
1 sone 3-erf (gesoneer as residensieel sone 3 vir woonstelle) met ‘n totaal van 2 084 m² (2%),
1 Gemeenskapsone 3-erf van 2509 m² (2%),
2 Sakesone 1-persele (algemene sake met vergunning vir ‘n diensstasie op een erf) met ‘n totaal van 9 627 m² (9%) en
6 private oopruimtes met ‘n totale oppervlak van 15 117 m² (14%).
(Sien berig van Junie 2024.)
Dit is nie ‘n sekuriteitsontwikkeling nie, maar daar sal wel toegangsbeheer wees na die aftree-oord wat aan vleiland grens.
Volgens die dokumente wat nou oop is vir publiek deelname en kommentaar is die ontwikkeling in vier fases opgedeel. Die aftreeoord en “padstal”winkel sal die eerste fase wees, waarna die woonstelontwikkelings sal volg met die onthaalsentrum as derde fase en die enkelerwe as laaste fase.

Die RVRA is tans nog bekommerd oor die persele met woonstelsonering en spesifiek die hoogte daarvan. “Al onderneem die ontwikkelaar tans om dit tot 8 meter te beperk, is ons bekommerd dat dit later straks onder nuwe eienaarskap kan verander. Volgens daardie sonering kan dit moontlik tot 21 m (ses verdiepings) hoog raak en ons wil nog ‘n afdwingbare ooreenkoms in dié verband deurvoer.”
Die openbare deelnameproses is tans oop en die publiek kan nog kommentaar lewer tot 26 Mei. Die dokumente is beskikbaar op hierdie webwerf.

Pulles sê na afloop van hierdie proses moet daar weer goedkeuring van Erfenis Wes-Kaap verkry word waarna die hersoneringsproses by die munisipaliteit moet volg.
“Dit is ook vir ons belangrik dat die munisipaliteit die watervoorsiening van die dorp opgradeer met ‘n nuwe pypleiding en nuwe reservoir en die rioolnetwerk het ook aandag nodig. Dit gaan groot druk plaas op die rioolnetwerk wat klaar nie die bestaande riool kan hanteer nie.”
*Die Swartland Munisipaliteit het in die jongste begroting begroot vir ‘n nuwe pypleiding vanaf die Ongegund-reservoirs asook ‘n nuwe reservoir vir Riebeek-Kasteel.
