Agri/BusinessLatest

Riebeek-inwoners maak beswaar

“Niemand kan ontwikkeling stop nie”

Werk op die eiendom wat op Riebeek-Kasteel as die springbokkamp bekend is en waar ‘n groot woon- en sakeontwikkeling beoog word, is tydelik gestaak.
Ontwikkelaar Rian Geldenhuys sê hy het die eienaars wat nuwe gras op dele van die eiendom wil vestig en ‘n brandpad wil maak, gevra om eers te stop tot die provinsie daarmee tevrede is.

Die Munisipaliteit en omgewingsake het klagtes ontvang van die Riebeekvallei Belastingbetalersvereniging (RBBV) se William Pulles wat bekommerd is dat daar met werk vir die ontwikkeling begin is voordat goedkeuring verleen is.
Geldenhuys sê dit lyk vir hom hy sal teen die einde van Julie kan begin om die dienste op die eiendom aan te lê.

Hy vertel aan dié courant dat hy nou op Riebeek-Kasteel woon en reeds vier jaar besig is met die betrokke eiendom wat hy van die Smutsfamilie se Huguemont Trust koop.
Die planne vir erf 878 waarvoor ‘n hersoneringsaansoek ingedien is, sluit onder meer twee sakesone 1-erwe (‘n diensstasie en algemene sake), een algemene residensiële erf (woonstelle), 60 enkelresidensiële erwe en 62 algemene residensiële erwe (dorspbehuising) in.

Die eiendom tussen Kerkstraat en Fonteinstraat beslaan 11,097 ha en die aansoek is ingedien om dit van landbousone 1 na ‘n onderverdelingsgebied te hersoneer.
Geldenhuys vertel die eiendom was vroeër jare deel van Piet (Spiere) du Toit van Kloovenburg se grond en dat hy dit destyds met Willem Smuts geruil het vir wingerdgrond.
Hy sê die huurkontrak vir ‘n Checkers-winkel is reeds geteken en daar kom ook ‘n Clicks en ‘n paar kleiner winkeltjies. “Jy kan nie 400 nuwe mense in die dorp inbring en hulle kan nie brood eet nie. Die infrastruktuur moet reg wees.”

Die kapitaal vir die klein sakesentrum kom volgens Geldenhuys van André Markgraaff se ATM-groep met hul hoofkwartier op Stellenbosch.
Die ontwikkeling sal ook ‘n mediese sentrum insluit met ‘n dokter (24 uur), ‘n tandarts asook laboratorium-, radiologie- en ambulansdienste, voeg hy by.
Geldenhuys sê daar is “geweldige belangstelling” en bevestig ook dat van die 120 huiserwe “sê 60% reeds opsies geteken en opsiefooie aan die prokureurs betaal is”. Dit staan wel die mense vry om nog kop uit te trek en hul fooie terug te kry, sê hy.
“Niemand kan ontwikkeling stop nie.”

Talle inwoners en die RBBV het vroeër beswaar gemaak teen die huidige planne vir die beoogde Riebeek Hill-ontwikkeling.
Inwoners het ‘n vergadering gehou oor die ontwikkeling en ‘n span met kundiges onder leiding van Pulles is daarna saamgestel. Hulle het ‘n omvattende beswaarskrif teen die huidige planne ingedien. Dit sal nou deel uitmaak van die proses waar op elke beswaar geantwoord moet word alvorens die volgende fase van die goedkeuringsproses kan voortgaan.
Onder die besware teen die huidige planne en prosesse tel besware oor onvoldoende munisipale dienste (riool, stormwater, drinkwater); die moontlike implikasie van die fasering van die ontwikkeling onder meer ten opsigte van die kapitaaluitgawes vir die plaaslike owerheid; die gebruik van Fonteinstraat as ‘n toegangsroete en die gevolg daarvan; die ontwikkeling van ‘n sekondêre sentrale sakekern langs Kerkstraat/R311; die voorgenome nuwe vulstasie asook “die versuim om die visuele kwessies wat vroeër deur die provinsiale erfenisowerheid geopper is, na behore aan te spreek”.

Erfenis Wes-Kaap het vroeër die huidige vista vanaf die R311 oor Riebeek Kasteel geïdentifiseer as kritieke kulturele erfenis wat bewaar moet word.
Dit sal, luidens die besware, met die voorgenome ontwikkeling “fundamenteel en onherroeplik vernietig word”.
Die kommer word ook uitgespreek dat die ontwikkeling ‘n negatiewe impak op toerisme in Riebeek-Kasteel, een van die streek se hooftoerismebestemmings, sal hê. Ook die risiko dat ‘n nuwe sakenodus sake in die bestaande middedorp en om die dorpsplein wat toeriste lok, ‘n gevoelige slag sal toedien en tot werksverlies aanleiding sal gee. Toerisme is ‘n belangrike werkskepper en die area om die dorpsplein – winkels, restaurante en kunsgalerye – verskaf ‘n wesenlike gedeelte van die dorp se nie-landbou-indiensneming. Toerisme bied ‘n pad uit armoede, aldus die beswaarskrif.

Verdere kommer is dat die inbring van nasionale korporatiewe kleinhandelafsetpunte, eerder as besighede wat deur plaaslike inwoners besit word, beteken dat winste uitvloei na die sakke van nasionale aandeelhouers.
Die beswaarskrif maak ook melding van die ontwikkeling onder in Kloofstraat wat reeds goedgekeur is en die dorp en Esterhof meer sal integreer.

Daar bestaan ook kommer oor die besoedelingsrisiko wat ‘n vulstasie vir grondwater inhou.
Intussen word van die beplande eiendomme bemark op die internet.
Daar is onder meer erwe van 204m² teen R474 875 en 626m² teen R787 500 wat te koop aangebied word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!