Grootuitdaag: 1ste ronde loop ten einde
Daar is nog een naweek se wedstryde oor in die eerste ronde van die Boland Grootuitdaag (Swartland-afdeling). Dit is steeds Wesbank onder afrigterskap van McNeil Hendricks wat die spreekwoordelike kitaar slaan. Hulle is steeds onoorwonne ná 10 wedstryde en het die afgelope naweek hul voorsprong op die puntetabel met nog twee punte tot 11 punte vergroot.
Die Koringboere het na Porterville gereis om hul naaste uitdagers (in die tweede plek op die punteleer) aan te durf.

Die besoekers het met ‘n skepdoel die telbord aan die rol gesit waarna die tuisspan agter Wesbank se doellyn gaan kuier het, om voor te loop met 5-3. ‘n Strafdoel het Wesbank weer laat voorloop, voor die tuisspan hul tweede drie gaan druk en verdoel het om weer die voortou te neem (12-6).
Vyf minute later het Wesbank weer die wipplank laat kantel en ook ‘n verdoelde drie aangeteken om weer hul neus voor te kry. Hulle het voor rustyd nog twee verdoelde drieë behaal met Porterville wat ook een bygevoeg het om die rustydtelling tot 27-19 in die Koringboere se guns te voer.
Porterville het op hul tuisveld die rekening in die tweede helfte geopen en hul agterstand weer tot ‘n enkele punt laat krimp (27-26).
Dié tendens het het hom herhaal met nog twee verdoelde drieë (34-33) voor Wesbank die gaping met nog ‘n verdoelde drie en strafdoel tot 44-33 laat rek het.
Porterville het weer agter die besoekers se lyn gaan kuier om die laaste punte aan te teken en die eindtelling was 44-40 in Wesbank se guns.

Darling, wat voor die naweek se kragmetings in die derde plek op die punteleer, het in ‘n wegwedstryd op Riebeek-Wes teen Good Hopes gespeel. Die Melkboere het in een stadium met 24-0 voorgeloop, voor die tuisspan hul eie rekening kon open. Darling het die kragmeting met 29-19 gewen. ‘n Fotoblik
Die Melkboere het nou weer in die tweede plek op die punteleer ingeskuif met Porterville in die derde plek en Mamre wat hul vierde posisie behou het ná ‘n tuisssege van 59-21 oor Koringberg.
Abbotsdale beklee tans die vyfde plek nadat hulle Saterdag hul wegwedstryd teen Saron oortuigend met 42-19 gewen het.
Never Despair kon op hul tuisveld net-net daarin slaag om hul bure van Moorreesburg met 23-22 te klop. Op Riebeek-Kasteel kon die Riebeek-United se ondersteuners hul heel eerste oorwinning van die seisoen proe toe hul span die besoekers van Villagers Wittewater naelskraap met 8-7 geklop het.
Die spelrooster vir hierdie komende Saterdag (tuisspanne eerste) is:
Abbotsdale teen Koringberg
Darling teen Never Despair
Moorreesburg teen Saron
Riebeek United teen Porterville en
Wesbank teen Mamre.
