LatestNewsSchools

Schoonspruit weer Derbykampioene

Een van die hoogtepunte op die sportkalender van Malmesbury is die jaarlikse Derby tussen Wesbank en Schoonspruit wat ná ‘n lang afwesigheid ‘n paar jaar gelede heringestel is.
Die twee skole het mekaar dié naweek op die Alfastraat-sportgronde in ‘n klompie netbal-, sokker- en rugbywedstryde die stryd aangesê. Dit was vanjaar een van FNB se Classic Clashes.

Die oggend het in redelike mistige toestande afgeskop, maar dit het die spanne nie verhoed om mekaar op tipiese derbystyl behoorlik op te keil nie.
In al drie die kodes was die eerste spanne van Schoonspruit die wenners, maar maklik het dit nie gegaan nie en hulle moes almal tot die einde spook om die onderskeie seges te behaal.
Op die sokkerveld het Schoonspruit se o.19A-span die sege met 3-2 beklink, terwyl hul skoolmaats op die netbalbaan ook in ‘n naelbytstryd gewikkel was. Schoonspruit se o.19A-netbalspan het dié wedstryd waar die telling laag gebly het, met 14-11 gewen.

Die laaste kragmeting van die dag was dié op die A-veld tussen die twee skole se o.19A-rugbyspanne.
Die spanne het mekaar min beweegruimte gegee en die uitslag was tot reg op die einde nog op ‘n mespunt.
Wesbank was met die omdraaislag 8-7 voor nadat Schoonspruit eerste punte op die telbord geplaas het met ‘n verdoelde drie in die sewende minuut. Wesbank het dertien minute later die opponente se doellyn in die hoekie oorgesteek om hul eerste vyf punte aan te teken. Hulle kon in die doodsnikke van die eerste helfte ‘n strafdoel byvoeg om hul neus voor te kry met rustyd.
Ná 15 minute se spel in die tweede helfte het Schoonspruit hul tweede drie gedruk om weer voor te loop (12-8).

Wesbank het egter terugbaklei en aangeval om 13 minute later naby Schoonspruit se doellyn ‘n skrum af te dwing. ‘n Steekskoppie in die hoekie het vrugte afgewerp met ‘n drie in die 28ste minuut. Wesbank se vreugdeviere het hoog gebrand en hulle was diep in die wedstryd weer voor met 13-12. Toe hul egter kort daarna ‘n strafdoel binne bereik afstaan, kon Schoonspruit weer die neus voorkry om uiteindelik met 15-13 te seëvier.
dié courant was daar – Fotoblik 1Fotoblik 2Fotoblik 3
Die uitslae van die ander kragmetings van die dag (Wesbank se punte eerste):
𝑵𝒆𝒕𝒃𝒂𝒍
o.14: 5-10
o.15: 7-4
o.16: 19-3
o.17: 5-16
𝑺𝒐𝒌𝒌𝒆𝒓
o.16: 2-1
𝑹𝒖𝒈𝒃𝒚
o.14: 14-17
o.15: 10-17
o.16: 3-14
o.19B: 12-5

Leave a Reply

error: Content is protected !!