‘Altyd maar op pad’; immigrante
Johan Viljoen
Altyd maar op pad.
Sing Amanda Strydom. “…ek reis onrustig en onseker…”
As die lewe ‘n reis is, is standplase mos altyd hoogstens tydelik.
Trek. Verhuis. Verplaas.
In al die fasette daarvan.
Die onbekende in.
Soms die onbekende bekende.
In die veelgeprese Riebeekvallei, oënskynlik altyd rustig, is daar die laaste paar dae ‘n onrustigheid.
Tydelike inwoners (nie dat enigiemand ooit permanent op ‘n plek kan woon nie) van ander lande wat hier kom vastrapplek kry het, moet trek. Hulle moet terugkeer na hul komvandaan.
Daar is soveel kante van die realiteit.

Ironies dat daar komende Maandag ‘n nuwe uitstalling juis deur een van die vallei se deurwinterde bekroonde kunstenaars van konseptuele kuns in Bloemfontein open.“From the Depths Deeply Buried.” Emma Willemse is al vir jare besig om in verskillende media deur haar kuns die fasette van verplasing/ontheemding te ontrafel en toe te lig. Die uitstalling in die Reservoir Gallery, ‘n ondergrondse uitstallingsruimte by die Oliewenhuis Kunsmuseum, duur van 7 Julie tot 30 Augustus.
Terug by die Riebeekvallei.
‘n Paar kante van die realiteit.
Wêreldwyd werk mense van ander lande onwettig en word deur plaaslike werkgewers in diens geneem. Mense wat nie mag werk nie, werk dikwels harder as die plaaslike mense en is ook bereid om vir minder geld te werk.
Dit sit meer geld in werkgewers se sak en brood op die immigrante se tafels.
Neem dit werk van plaaslike mense weg?
Is dit waar of net ‘n bedekte verskoning dat plaaslike mense lui is of luier is of meer eise stel omdat hul wettig werk?
Is dit reg dat die buitelandse mense onwettig werk?
Is dit reg om vir hulle werk te gee?
Is dit verkeerd om jou vaderland te verlaat om den brode?
Dra dit by tot die ekonomie of kos dit die ekonomie geld? Stuur hulle die meeste van hulle inkomste terug na hul lande van herkoms?
Het hierdie land, die verskillende sfere van owerheid, ‘n verpligting teenoor die mense wat onwettig werk?
Hoe ver strek humanitêre verantwoordelikheid?
Wat is die definisie van humanitêr aanvaarbare omstandighede vir onwettige immigrante in transit?
Dit klink of sommige lede van die gemeenskap reg in eie hande geneem het of wou neem. Selfs of sommige immigrante se eiendom/besittings ook geplunder is.

Wie is verantwoordelik om hulle veilig die land uit te neem of te laat gaan?
Wie moet vir hulle kos en verblyf gee?
In die Riebeekvallei het daar die afgelope paar dae ‘n sluimerende enjin opge’start‘ en mense het hande gevat.
Immigrante in veiligheid gebring.
Die polisie, die RVRA (belastingbetalersvereniging), raadslede, Rotariërs, ondernemings, weldoeners, sjefs. Mense het hande gevat en hul hande en beursies oopgemaak om die meer as 100 immigrante te help. Of hulle nou in die vallei moes wees of nie.
Dit is insiggewend om te sien hoe mense, naas produkte, ook kontant van tienduisende rande skenk vir hulp.
Die immigrante sal volgens die beskikbare inligting met busse na die landsgrens by Beitbrug geneem word. Terug na hulle werklikheid van die bekende – die nou onbekende bekende.
Prysenswaardig hoe mense saamstaan. Die wonder van ‘n klein dorp se gemeenskap.
Daar is natuurlik altyd nog talle vrae.
Miskien net dit. Is daar dieselfde welwillendheid teenoor landsburgers in dieselfde vallei wat ook verstrengel is in die realiteite van oorlewing – om den brode?
