FEATUREDGeneralNews

Losie word ‘n kerk

•Johan Viljoen – Die historiese Vrymesselaarslosie in Prospectstraat op Malmesbury sal eersdaags die tuiste word van die CRC Malmesbury-gemeente. Dié kerkgroep met meer as 90 gemeentegroepe landwyd is in 1994 begin deur pastore At en Nyretta Boshoff. Die Vrymesselaarslosie is 5 jaar gelede deur ‘n boorling van die dorp, Johann Treurnicht, gekoop toe die bestaande tak (losie) van die vrymesselaars hul werksaamhede na ‘n ander bestaande losie in die Paarl verskuif het. Sy pa, ds. Nic Treurnicht, was vroeër jare predikant op Riebeek-Kasteel en Malmesbury. Treurnicht is ‘n regsgeleerde en was 25 jaar verbonde aan Sanlam. Hy woon in Durbanville en is ook betrokke by eiendomsontwikkeling, onder meer ‘n meenthuis-kompleks in Mollstraat op Malmesbury. Wimpie Taute, pastoor van CRC Malmesbury, het aan dié courant gesê dié gemeente is een jaar oud en het begin met ses mense in huis.

‘n Deel van die losie is in die 1905-tornado verwoes. Dit is sedertdien herbou.

Hy sê sy gemeente wat tans hul dienste in banketsaal van die stadsaal op die dorp hou, het op die oomblik om en by 60 lidmate. Die grootste gemeentes is in Bloemfontein, Pretoria en Johannesburg. Taute vertel CRC het die mandaat opgeneem om uit te reik en om te gee vir plaaslike gemeenskappe en daarna te streef om in die behoeftes van die moderne persoon te voorsien. Hulle wil voorlopig teen die begin van Julie hul eerste dienste in die historiese gebou hou, as alles volgens plan verloop. Die Victoriaanse gebou (met klassieke invloede), wat kenmerkend uit twee verskillende gedeeltes bestaan, dateer uit die 19de eeu. Die Vrymesselaarstak, St Jan, is volgens dokumentasie in 1866 gestig en toe in die gebou van een van die lede, BJ Croeser, gehuisves. Met sy dood het die tak die gebou bekom en na hul behoefte verander. Die tempel (agterste gedeelte) is in 1871 in gebruik geneem en 22 nuwe lede is ook by die geleentheid aanvaar. In 1905 het die tornado wat baie geboue op Malmesbury beskadig of verwoes het, ook dié gebou ernstig beskadig. Dit is herstel en in 1907 weer in gebruik geneem. dié courant het in 2014 berig Treurnicht het gesê hy het nie ‘n spesifieke doel gehad met die aankoop van die gebou nie. “Ek voel dit is eintlik die staat se plig om na die instandhouding van ons ou geboue te kyk. “Maar dit gaan nie gebeur nie en daarom moet ons maar probeer om sover moontlik die geboue in stand te hou.” Hy het bygevoeg dat dit altyd belangrik is dat dit op ‘n ekonomies haalbare wyse gedoen moet word. “Die losie is ‘n pragtige gebou en ek sal graag die sigwaarde wil verhoog. ‘n Mens moet mooi dink: dit is die soort van plek wat ons kan inrig om ‘n stukkie van Malmesbury en selfs die groter Swartland te kan uitbeeld.” Treurnicht het intussen baie geld spandeer aan restourasiewerk en het ook met die erfenisstigting moeilikheid opgetel oor hoe dit gedoen kan en mag word. Dit het bygedra tot die vertragings en waarom die werk nou eers voltooiing nader.

Leave a Reply

error: Content is protected !!