Hoe gemaak met Augustus-tuin
In die winter ondervind ons altyd ‘n paar probleme wat sommige tuiniers soms hande in die hare laat. Die eerste een waaraan ek kan dink is; met al die lieflike reëns is daar nou onkruid in oorvloed. Die eerste plek waar dit die meeste pla is in ons grasperke. Baie tuiniers se grasperke het nou weer ontwaak na die reëns, maar nou is daar meer onkruid as grasperk. Hier moet ons gebruik maak van ‘n SELEKTIEWE onkruiddoder, dit wil sê, een wat net dit doodmaak wat ons wil weg hê en nie die gras benadeel nie. Daar is ‘n hele paar verskillende produkte beskikbaar, ons beveel aan dat jy ‘n paar voorbeelde saambring van die onkruide wat jou pla, dan kan ons ‘n regte aanbeveling maak. Dan is daar die geplaveide oprit en ook ander plaveisel waar die onkruid tussen die plaveisteentjies opkom, asook ander groot ongebruikte areas of sypaadjies wat welig toestaan met onkruid. Hier kan ons ‘n NIE SELEKTIEWE produk gebruik wat alles gaan doodmaak. Pasop net dat jy nie enige plante raakspuit wat jy nie wil verloor nie, want die onkruiddoders werk deur die chlorofil in die blare of stamme, wind kan ook die gif oorwaai, spuit verkieslik op‘n sonnige windstil dag met minstens ‘n dag of twee mooiweer daarna. Ons sal vir u van die regte produk voorsien vir hierdie taak. Nadat jy klaar die spuitwerk gedoen het, maak seker dat jy jou gifspuit deeglik skoonmaak met ‘n sterk Amoniak- oplossing en dit ook deurspuit om pype en “nozzles” skoon te kry. ‘n Volgende probleem wat nou onstaan op die grasperk met die meer reën, veral in die areas wat in skadu is en min of geen son kry nie, is dat die gras lyk of dit vrot. Hierdie probleem word nie maklik opgelos nie, want die produkte wat hiervoor help, is net in grootmaat beskikbaar. Sorg dat jou dreinering goed is, saag moontlik ‘n paar boomtakke weg om meer son deur te laat en wees geduldig, wanneer die langer dae aanbreek en die son se trajek verander, verdwyn die probleem redelik vinnig. Tydens die lang “droogte” het slakke nogal skaars geword in ons tuine, maar ons het vergeet dat moeder natuur kyk na haarself, en nou met die baie meer reëns het die slakke ontwaak en daar het weer nuwes bygekom wat uitgebroei het en nou het ons ‘n plaag op hande. Die gebruik van ‘n goeie SLAKLOKAAS is die mees effektiewe manier on hulle uit te roei. Daar is die pilvorm, gewoonlik BLOU, want voëls tel nie blou goed op nie. Nou hier dink party tuiniers dat hulle die pille moet gooi tot die tuin “figuurlik gesproke” potblou is, nee dit is nie nodig nie. Die beste metode is om so ± weekliks klein bietjie pille regdeur jou tuin te sprinkel, hou hiermee vol dwarsdeur die jaar en jy sal ondervind dat jou slakgetalle neem nie toe nie, inteendeel jy sal later wonder is daar nog slakke. Daar is ook ‘n vloeistof beskikbaar wat jy met jou gifspuit kan toedien, asook ‘n organiese produk. Sterkte met die tuintake. Ek wil weer herhaal, indien daar enige vrae is wat julle graag wil hê dat ons dit hier in die rubriek moet behandel, stuur ‘n epos aan: info@malmesburykwekery. co.za en meld net dat dit vir die Courant se tuinrubriek is, ek gee met graagte aandag. Tuingroete, George Retief