Dis skoutyd op Malmesbury
Malmesbury hou weer dié naweke skou en soos elke jaar is daar die immergewilde afdelings en ‘n paar opwindende nuwe toevoegings om te verseker die aanbod voorsien in elke smaak.
Die perdeprogram is een van die ankers van die skou en daar is weer meer as ‘n 100 klasse waarin die onderskeie rasse/kategorieë sal deelneem. Dit sluit in die gewilde Saalperde, SA Vlaam, Walliese Ponies en SAR-klasse. Die perdeprogram begin die Donderdag om 09:00 en duur tot 13:00. Die tye vir die arenaprogram vir Vrydag is 08:30 tot 18:30 en Saterdag van 08:00 tot 17:00.

Die Jeugskou vind weer môremiddag (Donderdag) plaas en die jong deelnemers wys hul slag in die hantering van skape, bokke, beeste en hoenders. Die Jeugskoue het die laaste klompie jare landwyd ‘n oplewing beleef en is ook baie gewild by Malmesbury Skou.
Daar is vanaand reeds ‘n ABBA Damesaand vanaf 18:30. Die deurwinterde Mike McCully en sy groep, Mike McCully & the Harmonix, sal die ABBA-musiek verskaf. Daar is kosstalletjies en ‘n kontantkroeg.
Môre se program word afgesluit met ‘n Moedskep Burger-aand vanaf 19:00 by Patat se Gat.
Vrydagaand is dit weer die gewilde Steak-ete en Dans vanaf 19:00. Vanjaar sal Wynand Windpomp & Manie, Mirandi (SA Idols-finalis) & DJ Kaalkop die musiek maak. Die kaartjies kos R180 per persoon en daar is ‘n kontantkroeg (Geen eie drank)
Saterdag
Naas die perdekampioenskappe, is daar ook die Wes-Kaapse Boerboel-klubskou vanaf 09:30. Skakel Wesley Leukes by 078 456 6803 vir meer inligting.
Vir die jongspan is daar ook vermaak met toesig in die kindertent vanaf 09:00 Dit sluit springkastele, ponieritte, ‘n inkleurhoekie, gesigverf en vele eer in.
Om 11:00 is daar ‘n poppekas met ‘n Jan-en-die-Boontjierank-verwerking en om 14:00 is daar ‘n vertoning van ‘n Rooikappie-en-die-wolf-verwerking .
Die middagete-program sluit ‘n troutrekkompetisie om 13:00 asook veteraanvoertuie en ‘n valskermvertoning deur Mother City Skydiving in.
By Patat se Gat is daar vanaf 12:00 tot laat musiekoptredes deur gewilde kunstenaars.
Sam & Calla tree van 12:00 tot 13:45 op, gevolg deur Gert Zandberg van 14:00 tot 15:45, Die Rooiwynprofeet van 16:00 tot 17:45, Christo Lotz van 18:00 tot 20:45 en Plan B-orkes van 21:00 tot 00:00.
Die toegangsfooie vir vanjaar se skou beloop R50 vir volwassenes en R20 vir kinders tussen 3 en 18 jaar. Daar is ook binne-parkering beskikbaar @R20.