CommunityFEATURED

Nuwe Caminoroete kan bedryf baie baat – Hewitt

image_pdfimage_print

Op ‘n innerlike pelgrimsreis – ‘n ontdekkingstog te voet deur die landboulandskap van die Boland en Weskus.
Só kan die nuwe been van die Cape Camino waarop die heel eerste pelgrims vandeesweek vertrek het, beskryf word.
Die eerste pelgrims op die nuwe roetes het gisteraand in die Riebeekvallei oornag nadat hulle Maandagoggend in Wellington weggespring en reeds twee nagte by akkommodasiepunte langs die roete geslaap het. Hulle het vandag na Gouda gestap. Verdere punte op die roete sluit Koringberg, Wittewater, Goedgedacht en Aurora in.

Dié agterpaaie-konsep geskoei op die wêreldbekende El Camino de Santiago in Europa het die potensiaal om ‘n groot inspuiting te wees vir die streek se gemeenskappe, sê stigter Gabrielle Andrew.
“Die roete is ‘n netwerk van plaaspaaie, grondpaaie en paadjies. Ons kruis teerpaaie een of twee keer. Die terrein is die asemrowende uitsig op Kaapse wynlande, bergreekse, die Bergrivier en die Atlantiese kuslyn.”
In Europa word die groot El Camino de Santiago reeds oor eeue gestap en daar is jaarliks sowat 250 000 pelgrims oor verskillende afstande daar gaan stap.
Die Cape Camino is in 2015 van stapel gestuur met die Skiereilandroete in en om Kaapstad.
Nou is die roete uitgebrei met twee nuwe bene om van Wellington na die Bergrivier (Limietbergroete oor ongeveer 140km) en tot aan die Weskus (Piketbergroete oor ongeveer 135km) in te sluit.


“Ons wil in 2020 die sirkel voltooi met die volgende been, die Kusroete, wat jou weer al langs die Weskus sal terugneem na Kaapstad,” verduidelik Andrew. Die belanning is om dié been by Paasnaweek te loods.
Die Kaapstad-been sal dan die vierde en laaste een word om die Cape Camino 1000, soos talle ander, in ‘n gewilde stad te laat eindig.
Andrew sê die mikpunt is dat die Cape Camino 1000 oor 5 jaar sowat 100 000 pelgrims per jaar kry.
“Ons doen ‘n beroep op ons plaaslike plattelandse dorpe, nedersettings en boere om deel te neem.
Saam bring ons eenheid, vrede en vooruitgang vir ons almal, terwyl die wêreld ons pragtige platteland, landelike gasvryheid en ‘n oorvloed diversiteit geniet.”

Andrew verduidelik: “Elke been word deur ‘n gemeenskap besit en beskerm: dit hou die pelgrim veilig, huisves, gevoed en ingelig.
“Daar is geleentheid vir die plaaslike gemeenskap om ‘n diens te lewer en inkomste te verdien – van ‘n begeleier, tot ‘n gids wat die omgewing goed ken of huisverblyf om pelgrims te akkommodeer.
“Hierdie is ‘n nasiebouer en die opsies is eindeloos.”
“Die beskikbare akkommodasie kan wissel van R250 per nag per persoon tot die luukse teen R2500 per persoon.”
Dis ‘n bedevaart ongeag pelgrims se geloofsoortuigings en vir baie pelgrims ‘n geestelike reis waarop hul ook die kerke en gewyde plekke in klein dorpies besoek.

Afstande is gewoonlik tussen 15 en 20 km per dag, maar dit hang van pelgrims af. Net soos in Spanje, kry pelgrims ‘n paspoort en vertrek op hul eie Camino-tog.
Gashere waar die pelgrims oornag, stempel die Camino-paspoort en teken dit ook aan en sodoende word rekord gehou van pelgrims op die roete.
‘n Belangrike eienskap van Camino-roetes is dat pelgrims self kan besluit hoe ver en hoe lank hulle wil stap. Hulle is nie tot volle roetes of afstande gebind nie.
Pelgrims kan ook die opsie neem om hul bagasie na die volgende oornagpunt te laat vervoer.

Foto: Verskaf (Shawn Hewitt)


Pelgrims kan enige datum kies om die tog aan te pak. Andrew verduidelik hulle gaan vir 2020 vier vasgestelde datums hê vir diegene wat dit as ‘n meer georganiseerde tog in ‘n groep wil aanpak.

Die Pelgrims het gister rotstekeninge teen Kasteelberg besoek. Foto: Verskaf (Shawn Hewitt)

Shawn Hewitt van Riebeek Valley Tours het aan dié courant gesê : “Die gepastheid van die Camino/Riebeek-vehouding kan vir toerisme in die Vallei tot groot voordeel wees. Toerisme is ‘n spansport en ek as ‘n besigheid is dankbaar teenoor Riebeek Vallei Toerisme vir die rol wat hulle gespeel het om ons tot op hierdie punt te bring.”

Van die pelgrims het gisteraand in Esterhof by Magdalena Appollis (Tannie Lena, soos almal haar noem) oorgebly. Sy woon al haar hele lewe in die Vallei het gesê sy “het die geleentheid vreeslik geniet en hoop dat dié mense en toekomstige pelgrims weer sal terugkom om te kom kuier”.

Van die pelgrims het by Lena Appollis oornag. Foto: Verskaf (Shawn Hewitt)

Leave a Reply

error: Content is protected !!