Belegging in opvoeding is belegging in toekoms – Cleophas
Die burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas, het die streek se graad 12-leerders, wat die beste presteer het by hul onderskeie skole, vereer vir hul uitmuntende akademiese prestasies na afloop van die 2019 eksamens.
“Dit is slegs die begin van baie goeie dinge vir julle. Maak die beste van die geleenthede wat julle kry en julle sal die vrugte van julle harde werk pluk,” het dr. Demore Pretorius, wat die gaste toegespreek het, gesê.
Cleophas het by die geleentheid beklemtoon dat “ons gemeenskappe meer plaaslike helde en rolmodelle benodig. Julle is die trots van die Weskus omdat julle jul ouers, familie, jul gemeenskap en skool se naam hoog gehou het.
“Julle harde werk en toewyding kan nie ongesiens verbygaan nie,” het hy aan die presteerders gesê.
Dit maak deel uit van Cleophas se tema vir sy termyn: “Om die sosiale verval in gemeenskappe te herstel.” Dit word gedoen deur projekte, wat ‘n verskil in mense se lewens gaan maak, in die gemeenskappe te loods.
“Ek weet daar is baie uitdagings wat aandag moet geniet en ek is bewus dat dit tyd gaan neem om elkeen aan te spreek, maar ons vertrou dat vandag ‘n tree in die regte rigting is.
“Wanneer ons in opvoeding van jong mense belê, belê ons in die toekoms van ons land,” het hy gesê.
Die Weskus onderwysdistrik het ‘n toename getoon in die getal onderskeidings wat behaal is. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se direkteur vir dié streek, Heather van Ster, het die leerders, skoolhoofde en onderwysers bedank vir hul harde werk.
“Ons is heeltemal bewus daarvan dat daar skoolhoofde en onderwysers is wat alles in hul vermoë doen om te verseker dat leerders hul volle potensiaal bereik.
“Baie van ons leerders en onderwysers moet onder moeilike omstandighede funksioneer en dit maak die prestasies soveel soeter,” het sy bygevoeg.
Elke leerder het ‘n sertifikaat vir verdienstelikheid en geskenkpak vanaf die burgemeester ontvang. – (mediaverklaring)