10 Jaar Buite-ekspo propvol aktiwiteite nou om die draai

Daar is nou slegs twee weke voor een van die jaarlikse hoogtepunte op die Swartland en Wes-Kaap se buitelewe-almanak weer op Môreson buite Malmesbury plaasvind.
Die kykNET Buite-ekspo vier vanjaar sy tiende jaar met die 19de ekspo wat van 14 tot 16 Februarie plaasvind en die organiseerders sê hulle gaan dié verjaarsdagmylpaal behoorlik vier.

Verlede jaar het ‘n rekordgetal van meer as 20 000 besoekers na dié geleentheid gestroom om te kom kyk na die nuutste buitelewetoerusting, die leefstyl- en kunsstalletjies te besoek, saam te kuier in die kykNET-arena, eerstehands ‘n paar 4×4-ondervindings mee te maak en te smul aan die groot verskeidenheid kos en drinkgoed.
Organiseerder Marius Opperman skryf ‘n groot deel van dié ekspo se groei in gewildheid en sukses toe aan “baie prominente vennote in die media asook ‘n keur van borge en diensverskaffers waarsonder hierdie ekspo nie moontlik sou wees nie”.
Die ekspo is grotendeels gemik op buitelewe – en verwante uitstallings en sal vanjaar weer die nuutste in hierdie veld aan die besoekers bied. Met die uitstallers wat die naweek op hul uitstalruimtes woon, rig hulle hulself só in dat besoekers presies kan sien hoe die toerusting werk en gebruik word.

Daar is weer ’n kunsmark en ‘n splinternuwe Swartland Kelder Wyntuin met van die lekkerste wyne en heerlike eetgoed beskikbaar.
Saam met die talle uitstallings wat reeds lank voor die ekspo uitverkoop was, is daar weer volop aktiwiteite en vermaak vir die hele gesin.
Daaronder tel gratis 4×4 Amarok-hindernisritte deur die 4×4-meester, André de Villiers van Safari 4×4 Roetes; veld- en vierwielmotorfietsvertonings en helikopterritte.
Die pretpark wat ook paintball insluit, is altyd baie gewild onder die kinders en Sondagoggend is dit tyd vir die nuwe Lollos-vertoning.
Om die 10de verjaarsdag te vier, is daar vanjaar ‘n kykNET Buite-ekspo Verjaarsdag ‘Jol’ aangebied deur Jimmy’s Steakhouse Sauces met sepiesterre van Suidooster en Arendsvlei.
Die gewilde Chef Tommy (Vaatjie van Toks & Tjops) sal ook daar wees en die seremoniemeester vir dié partytjie die Saterdag is die bekende Hamilton Wessels.

Onder die Hankook-kunstenaars in die kykNET-arena is: Amore, Nadia Louw, Desmond Wells, Pieter Smith, Joe F, Cheree, Wicus van der Merwe, Megan Danner , Wynand Windpomp, Sam en Calla en Melo 3.
Vir navrae kontak die organiseerder Marius Opperman by marius@ekspo.co.za of 082 570 5758 of vir Tersia by accounts@ekspo.co.za of 071 659 9915.
Besoek die webwerf by www.ekspo.co.za vir meer besonderhede.
Toegangskaartjies is beskikbaar by Computicket.

Leave a Reply

error: Content is protected !!