Bouwerk aan hospitaal, sentrum begin straks in Mei
‘n Hooggeregshofuitspraak gister het die weg gebaan vir ‘n nuwe winkelsentrum en private hospitaal wat volgens die ontwikkelaar in 2022 hul deure op Malmesbury kan open.
Devmark, een van die groot eiendomsontwikkelingsmaatskappy in die Wes-Kaap, beplan nou ‘n 17 000m²-winkelsentrum en ‘n private hospitaal asook ‘n kantoorkompleks op die grond aan die noordekant van die Malmesbury-skouterrein.
Die afgelope meer as ‘n dekade het verskeie ontwikkelaars reeds planne gehad vir ‘n winkelsentrum op dié terrein, wat aanvanklik die skouterrein sou insluit.
Die nuwe plan is nou om slegs die 10ha plaasgrond van die De Kock-familie te gebruik.
Toegang tot die ontwikkeling sal dan via ‘n nuwe verkeersirkel op die Mount Royal-wisselaar wees.
Die 5-beensirkel word beoog op die huidige kruising van die afrit waar verkeer van die noordekant op Voortrekkerweg aansluit of weer in die suidelike rigting na Kaapstad.
Dit sal toegang verleen tot ‘n verbindingspad wat op die grens tussen die skougronde en die ontwikkelingsperseel gebou sal word en by Piketbergweg aansluit. ‘n Verdere verkeersirkel op die verbindingspad sal dan toegang tot die nuwe onwikkeling asook die skougronde verleen.
Jean-Pierre Nortier van Devmark het aan dié courant gesê “as jy ‘n winkelsentrum oopmaak, is daar net drie keer ‘n jaar wat die kleinhandel dit sal oorweeg om ‘n sentrum oop te maak. Ons tydsberekening sal die Oktober van ‘n jaar of die Paasnaweek van ‘n jaar wees.
“Ons beoog om die Paasnaweek van 2022 oop te wees.”
Die ontwikkelaars beplan, volgens Nortier, om aanstaande week om finale goedkeurings vir die projek wat “tussen R700 en R800 miljoen sal kos”, aansoek te doen. Goedkeurings waarvoor aansoek gedoen word, was reeds voorheen t.o.v. die perseel toegestaan en as als volgens plan verloop kan bouwerk reeds in Mei vanjaar begin.
Die private hospitaal sal deur die mediese sorg-groep, Samaritan Healthcare, bedryf word.
Die hooggeregshof se uitspraak het ‘n besluit van die provinsie om ‘n vorige ontwikkelaar se grasietyd vir die perseel te verleng, omgekeer waarna Devmark nou met die aansoekproses kan voortgaan.
Nortier het aan dié courant gesê die publieke deelnameproses is reeds afgehandel en hulle het reeds ook met die omliggende grondeienaars vergader. “Ons het die regte en die hersonering is ook reeds gedoen. So ook die omgewingsimpakstudie.”
Hy het bygevoeg dat hulle beplan om aan die noordekant van die terrein te begin met konstruksiewerk. Dit is waar die hospitaal beplan word.
Nortier sê: “In terme van area is die winkelsentrum die hoofkomponent van die ontwikkeling as die hospitaal, maar ons beskou die hospitaal amper as die anker.”
Bouwerk aan die hospitaal sal dus volgens plan eerste voltooi word, maar dit neem langer om ‘n hospitaal in te rig as ‘n winkelsentrum, het hy gesê.
Die hospitaal sal op een vlak wees terwyl die winkelsentrum op twee vlakke gebou sal word. Die handelsarea sal net op een vlak wees met kantore op die die ander vlak en die kantoorkompleks word vir drie vlakke beplan.
Volgens Nortier sal die hospitaal ook spreekkamers, radiologie en ‘n apteek insluit.
Die Samaritan-groep is “ouens wat uit die Netcare-stal kom.” Hulle is ook tans besig met ‘n fasiliteit in Langebaan.
Oor die grootte van die Hospitaal sê Nortier: “Ons het beplan vir 150 beddens.
“Ons het tans ‘n lisensie vir 50 beddens plus teaters, ensovoorts en ek dink ons gaan opeindig met 100 beddens, maar dit is nog ‘n proses.”
Samaritan Healthcare, onder voorsitterskap van dr. Eugene Watson met Reg Magennis as uitvoerende hoof, neem luidens hul webwerf in die eerste helfte van vanjaar drie nuwe fasiliteite in gebruik met elf projekte binne die volgende twee jaar.