Latest

Berg vernuwe; 1ste dag eindig vanjaar by Delsma

2020 is op die vooraand van die Bergrivier Kanomarathon se 60ste bestaansjaar in 2021, maar dié ultramarathon trek vanjaar van 8 tot 11 Julie reeds ‘n splinternuwe baadjie aan.
Een van die grootste veranderinge is dat die eerste van die vier skofte vir die eerste keer in die geskiedenis by Delsma naby Hermon sal eindig en nie soos tradisioneel by Sonkwasdrif nie.

(Hooffoto: Clifford Wyeth DPSSA LPSSA)

Wedvaartorganiseerder Brandon Macleod het aan dié courant gesê hulle wil dit voortaan ook vir roeiers op die Berg moontlik maak om slegs op die sport te fokus en dit te geniet terwyl die organiseerders die logistiek rondom die kos, akkommodasie en vervoer sal behartig.
Daar sal vanjaar drie roeierdorpe langs die rivier ingerig word met voorafingerigte tentedorpe en fasiliteite by Delsma, Bridgetown en Zoutkloof.
Daar is ook vanjaar etlike nuwe opwindende komponente waaronder water/versnaperingpunte vir die roeiers.
Dié nuwe drywende punte sal binne-in die rivier geplaas word vir roeiers om water en items soos piesangs te neem. Daar sal verder af punte in die rivier geplaas word waar roeiers van die houers of skille kan weggooi.
Die verskuiwing van die eindpunt op dag een sal nou, sê Macleod, meebring dat die eerste skof korter is sodat die tweede dag se skof ook, soos die ander drie dae, meer as 50km se roei sal behels.

Wedvaartorganiseerders, Alan Houston en Brandon McLeod

In hierdie stadium is dit nog onseker of die eindpunt van die wedvaart steeds voor die brug in Velddrif sal wees en of dit weer na Port Owen sal verskuif soos vroeër jare.
Macleod sê die Berg is ‘n wedvaart met besondere tradisie en erfenis en 2020 se wedvaart “gaan iets wees wat niemand voorheen gesien het nie.
“Ons gaan opwindende komponente terugbring wat die wedvaart sy regmatige plek as een van die wêreld se bekendste marathons verdien.
Macleod sê die Bergrivier het in 2019 ongeveer 80 deelnemers gehad terwyl daar in een stadium (met die 50ste bestaansjaar in 2011) 390 roeiers was.
Dié roetekaarte wys die vier skofte soos dit tot in 2019 was. Dag een word vanjaar verkort met die nuwe eindpunt noord van Hermon by Delsma.

Leave a Reply

error: Content is protected !!