Latest

Nuwe wyndruifklone soos Vermentino, Macabeau geproe

‘n Groep wynkenners het vandag van die nuutste en bestaande wyndruifklone in die Suid-Afrikaanse wynbedryf by Vinpro se hoofkantoor in die Paarl geproe en beoordeel.
Onder die opwindende nuwe druifsoorte en klone tel Grüner Veltliner, Vermentino, Macabeau en Xynomavros in.

Vititec, verskaffer van wingerdplantmateriaal, produseer jaarliks tussen 50 en 60 eksperimentele wyne op kleinskaal by die Universiteit Stellenbosch.
Volgens Charles Visser, Vititec-wingerboukundige, word die beoordeling volgens ʼn spesiale proekaart gedoen volgens belangrike kriteria insluitend kwaliteit en intensiteit van geur, en of dit tipies van die druifsoort is. “Die Chenin Blanc moet soos Chenin Blanc proe,” sê hy.
Vititec het in 2017 ʼn klonetuin by hul hoofkantoor gevestig waar sowat 255 verskillende jong wyndruifklone besigtig kan word.
Die klonetuin skep die geleentheid om nuwe wyndruifklone en druifsoorte aan die bedryf bekend te stel. “Ons brei voortdurend ʼn genepoel van druifsoorte uit vir produsente en wynmakers om vanuit te kies,” sê Visser. Hy meen dit is ook belangrik om te bepaal hoe goed ʼn druifsoort in sekere gebiede vaar.
Volgens Charles bied die kloneproe ʼn geleentheid vir wynmakers om aan te dui of hierdie wyne kommersiële waarde inhou. Dit bied ook die geleentheid om spesifieke klone te evalueer en uit te vind of die kenners van die bedryf glo dat die kloon vir Suid-Afrika se terroir geskik is.
“Die terugvoer uit die bedryf self is broodnodig en rigtinggewend. Hoewel dit ʼn lang proses van invoer tot produksie is, is die belangstelling in spesifieke klone en druifsoorte ʼn goeie aanduiding of die plantmateriaal vermeerder moet word,” sê Charles.


Die Grenache Noir, Vermentino en Macabeau het tydens die kloneproe uitgeblink.
Vir onafhanklike wingerdkundige Marko Roux is die Grenache Noir kloon 513 veral ʼn belowende kultivar. “Dit bied weerstand teen droogte en wind, groei baie goed en gee goeie opbrengste,” sê hy.
Marselan bied groter weerstand teen siektes as die Grenache Noir. “Dit sal interessant wees om op kommersiële skaal aan te plant,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.

Leave a Reply

error: Content is protected !!