Agri/BusinessNews

Veiligheid, vleisvolgstelsel bied geleenthede – Dürr

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het vandeesweek in sy begrotingsrede
aangekondig dat daar op die mediumtermyn R495,1 miljoen aan landbou toegewys is vir die nakoming van bioveiligheid en om uitvoere te ondersteun.
‘n Bedrag van R40 miljoen is begroot oor die volgende drie jaar ter ondersteuning van die ontwikkeling en implementering van ‘n nasionale identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel (Livestock Identification and Traceability System – Lits) vir vee.

dié courant het met Swartlander John Dürr van die Rooivleisprodusente-organisasie oor dié ontwikkeling in die vleisbedryf gesels.
Dit kom kort op die opheffing van die veilingsverbod ná die Bek- en Klou-uitbraak.

“Al is die verbod op veeveilings nou opgehef, sal baie streng dieresiekte-beheermaatreëls voortaan op alle veilings toegepas word voordat diere vir verkoop aangebied kan word. Ook hier sal nuwe bioveiligheidmaatreëls ingestel word, veral ten opsigte van die beweging en skoonmaak van voertuie en beweging van mense. Dit sal op die langtermyn net tot voordeel van die totale rooivleiswaardeketting wees.”
Oor kosveiligheid en die vleisnaspeurstelsel (Lits) sê Dürr: “Die moderne verbruiker stel baie hoër vereistes aan die produk/kositem wat hul gebruik, as wat die meeste van ons wil besef. Dié van ons (betrokke in die verskillende voedselwaardekettings) wat die vinnigste daarby gaan aanpas, sal die spreekwoordelike vrugte pluk.
“Die beplanning is om die Lits oor die volgende 7 tot agt jaar te vestig. Dit het ten doel om die verbruiker in staat te stel om enige van die vleis op die winkelrak na te speur tot op die plaas.
“Dit is ‘n enorme taak omdat elke produsent – groot en klein – deel van die stelsel sal moet raak.
“In Suid-Afrika is daar 613 662 huishoudings wat op groot of mikro-skaal met beeste boer, 215 034 huishoudings met skaap en 29 065 met bokke.
“Van hierdie vee is 40% in die hande van swart boere.”

John Dürr

“Daar is baie vrae en vrese by produsente oor die koste-aspek asook watter produkte aan die vereistes voldoen. Die meeste produsente, veral dié wat erns maak met hul diere, is deeglik bewus en bereid om die nodige aanpassings te maak en saam te werk, maar daar is nog produsente wat steeds met allerhande verskonings kom oor waarom hulle dit nie kan doen nie.
“Die belangrikheid om die verbruiker in ag te neem, word nie genoeg na waarde geag nie.””
Dürr sê in die Wes-Kaap word 5% van die nasionale beesvleisvraag van16kg per persoon per jaar geproduseer.
Dit voorsien in 40% van die provinsie se behoefte terwyl die ander 60% van elders kom.
Die provinsie voorsien 10% van die land se skaapvleis met ‘n verdere 10% wat van elders hier geslag word.
Van dié 20% word 20% weer uitgevoer.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskattings is dat die vraag na beesvleis teen 2026 met 19% sal toeneem terwyl dié van skaap met 5%, hoender met 22% en vark met 30% sal styg.

Die beespryse in Suid-Afrika is 30% onder die internasionale prys wat dit moeilik maak om in te voer en daar is ook ‘n invoerheffing.
Dürr sê 5% van die land se beesvleis word na Asiatiese lande uitgevoer omdat die produsente reeds goeie handelsbande opgebou het en die beeste in die voerkrale aan die nodige vereistes van daardie lande voldoen.
Hierdie uitvoere se impak tot ‘n hoër binnelandse prys is tussen R3 en R5 per kg.
“Die gemiddelde produsent is steeds geneig om nie na die groter prentjie te kyk (buite die plaashek/provinsie/landsgrense) nie en hou dus nie tred met geleenthede wat diegene wat dit wel doen, raaksien en benut nie.
“Die beklemtoning van die noodsaaklikheid van bioveiligheidsmaatreëls om ons toekomstige uitvoermarkte te vergroot, maar ook om ons binnelandse mark te behou en te stimuleer vir groter verbruik en gepaardgaande beter produkpryse, kan nie genoeg beklemtoon word nie.”
Hy vertel in gesprekke met produsente oor bioveiligheid word daar baie klem gelê op enige plaasbesoeker wat reeds op buur- of ander plase was en dus draers van “kieme” kan wees.

“Stelsels om hierdie tipe verspreiding te keer, moet baie ernstig aangespreek word en moet eerder ‘n gewoonte as die uitsondering (wanneer krisisse reeds ontstaan het) wees.”
“Biosekuriteit is voorheen slegs gesien as die diere wat rond beweeg en kieme/siektes kan versprei en onder kwarantyn op die plaas moet staan.
“Slegs by hoogs intensiewe boerderye soos pluimveeplase, varkplase en sekere melkplase word reeds baie hoë biosekuriteitbeheer toegepas nadat hierdie bedrywe al deur groot verliese en ontwrigting weens siekte-uitbrake geraak is.”
Hy voeg by dat die rooivleisbedryf asook verwante bedrywe soos wol, bokhaar, suiwel en wild geensins sulke uitbrake kan hanteer nie, want diere is te wyd versprei oor die hele land heen.
“Beheermaatreëls sal dus deeglik by die plaashek toegepas moet word.
“Ook op die plaaswerf tussen lamhokke, hanteringskrale en hokke/krale van verskillende spesies kan siektes oorgedra word. Daar sal stelsels van reiniging van kledingstukke en persoonlike higiëne soos deeglike handewas van kardinale belang wees – nie net in ons huise nie, maar veral waar ons met ons diere werk.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!