FEATURED

Nuwe aftreedorpie vir Swartland in R-Wes

‘n Leefstyl-aftreedorpie kan binnekort teen die voet van Kasteelberg op Riebeek-Wes tussen die Allesverloren-landgoed en die bestaande dorp verrys as als volgens plan verloop.
Die grond aangrensend aan die dorp val reeds binne die munisipale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk en is jare gelede al vir residensiële onwikkeling geoormerk en goedgekeur.

Volgens die planne sal die grond waar die huidige Pleasant Pheasant-restaurant staan asook die oop erwe daaragter – bestaande erwe 1845-1850, 23, 32, 36, 138 en ‘n gedeelte 8 van die plaas Allesverloren nr 642 – gekonsolideer word. Dit is alles die eiendom van die DF Malan Beleggingstrust.
Met ongeveer 300 wooneenhede van verskillende tipes sal die aftree-ontwikkeling volgens plan ook ‘n klubhuis, swemarea, restaurant, gimnasium, kliniek met apteek, dokterskamers en ‘n versorgingseenheid vir verswakte inwoners (24 beddens) asook vir dimensie-pasiënte (12 beddens) insluit.
Die ontwikkelingsperseel het ‘n steil helling van die Kasteelberg af van wes na oos.

‘n Voorlopige voorstelling van die voorgenoe aftree-dorpie


Ongeveer 4,7ha is tans onder wingerd, terwyl die res braak lê. Volgens die erfenisverslag vir die ontwikkeling sal die verlies van hierdie wingerd nie ‘n beduidende uitwerking op die landbouproduksie van die vallei hê nie.
Die hersonerings sluit sonerings vir Residensieel 1 en 2, Sakesone 2 en Gemeenskapsone 3 in.

Die aftreedorpie sal aan die westekant en die noordekant deur die bestaande dorpsontwikkeling begrens word, terwyl die suidekant deur ‘n Bergrivierloop en bloekombos begrens sal word. Dit vorm ook ‘n natuurlike skeiding tussen die perseel en die historiese Allesverloren-landgoed.
Toegang sal vanuit die R311-wees.

Die ontwikkelaar, Latitude Properties, het reeds jare se ondervinding en het onlangs ook die Harbour Bay Village-ontwikkeling in Simonstad gedoen. Van hul ander ontwikkelings sluit die kleinhandelontwikkeling The Galleria in Durban in.

Onder die voorwaardes vir die Allesverloren-ontwikkeling wat in die erfenisstudie na vore gekom het, was dat die bestaande historiese ry akkerbome aan die oostelike grens langs die R311 behou moet word.
Die ontwikkelingsplan is ‘n maksimum van 2 verdiepings wat volgens die erfenisverslag in ooreenstemming is met die omliggende woongeboue.

Leave a Reply

error: Content is protected !!