FEATURED

Wiskunde: rus kinders toe; leer hulle só dink – Rall

Die wiskunde wat ons kinders in die skole leer, is resultaatgedrewe. Dit leer nie kinders om te dink nie.
Só het Heinrich Rall by ‘n wiskunde-inligtingsessie op Malmesbury gesê.
Rall wat nou betrokke was by sy seun, Hjalmar, se wiskunde-onderrig in aanloop tot sy toelating tot Tukkies om op die ouderdom van 14 jaar met sy BSc. Fisika-graad te begin, meen: “Ons kinders word geleer om eksamen deur te kom.”

“As die kind nie goed doen nie, dan gooi ons ekstra klasse na die kind toe
“Dan kry die kind miskien ‘n A vir wiskunde en dan kom hul by die universiteit waar die eintlike probleme begin.”
Rall vertel hy het 34 jaar gelede sonder formele opleiding by wiskunde-onderrig betrokke geraak. Hul woon in Pretoria en hy is tans besig met ‘n groep kinders daar vir wie hy met wiskunde help op die Cambridge-kurikulum.
“In Hjalmar se klas, toe hy op 14 begin het op Tukkies, was daar 130 studente wat sou aangaan met fisika.
“Die meeste was mense wat A’s gekry het vir wiskunde op skool. Mense wat gevorderde wiskunde ekstra klasse gedoen het. Verlede jaar het 7 uit die 130 (5,4%) dit toe geslaag.”


“Die punt van wiskunde”
Hjalmar (17), wat in 2019 ná 3 jaar sy BSc. Fisika-graad voltooi het en tans besig is met sy honneurs in Fisika, sê: “die groot ding is dat die eerste jaar ‘n vreeslike aanpassing is.
“Universiteit kan net soveel doen om die gaping te oorbrug. Jy het die agtergrond nodig in baie vakke. Omdat die wiskunde so ver agter is, moet van die ander vakke wag omdat hulle nie kan aangaan nie omdat die studente nog nie die wiskunde wat daarvoor nodig is, gedoen het nie.
“Die Cambridge-kurrikulum was my redding.

Die Rall-gesin by die praatjie: Annette, Heinrich en Hjalmar

“Op universiteit gaan jy probleme kry wat so abstrak gevra word en jy moet die sprong kan maak na die abstrakte.
“Die punt van wiskunde is om dit af te breek in stappe.
“Deur die boublokke van wiskunde baie goed te verstaan en waarvoor dit nodig is, gee insig hoe kom ek van die probleem tot die punt waar ek dit in stappe kan oplos.”


Maar daar is ‘n oplossing vir jou kind
Rall snr. sê: “Ons groot probleem is in graad 5 tot 7 begin die gate inkom en dan hardloop hulle deur na graad 8 en 9 toe en nou sit die skole met ‘n krisis.
“In graad 8 en 9 – die kind doen swak. Wat doen die skool?
“Hier is ‘n nuwe ding. Wiskunde geletterdheid.
“Die kind mag nie aangaan met gewone wiskunde nie.”
“Dit is ‘n groot krisis wat ons nie kan verander nie.
“Die sillabus gaan nie verander nie.
“Die departement gaan nie verander nie.
“So die ouers moet betrokke raak, maar baie van die ouers het nie die vaardighede nie.
So almal stuur hulle kinders maar uit vir ekstra klasse sodat ons net deurkom.”


“Die skool kan nie regtig help nie, al wil hulle.”
“Daar is klomp diensverskaffers wat vir die kind ‘n goeie punt in matriek gaan verseker en die skrander kind gaan dit maak, maar die gemiddelde kind gaan uitsak.

“Daar is ook apatie by baie ouers.
“Die mense dink die skool sal dit regmaak.
“Die skool kan dit nie regmaak nie.
“Die skool word gedryf deur kurrikulum.
“Die skool kan nie regtig help nie, al wil hulle.


Ontwerp vir ‘n gemiddelde kind met ‘n IK van 100
“Die Cambridge-kurrikulum is ideaal vir begaafde kinders, maar Cambridge is ook ontwerp vir ‘n gemiddelde kind met ‘n IK van 100.
“Dit is meer visuele wiskunde en prakties georiënteerd.
“Almal sê Cambridge is moeilik. Dit is glad nie moeilik nie. Dit is ‘n prakties georiënteerde wiskunde wat begin op ‘n punt en dan werk dit sistematies deur, maar die konsepte word vasgelê.
“En uiteindelik is die kurrikulum ontwerp om vir mense te leer dink.”
“Daar is twee fases – jy begin by IGCSE wat hulle skoolverlatingsvlak is en dan het hulle A-levels wat letterlik ons eerste, tweede jaar is in sommige van die konsepte en hulle leer die kinders om abstrak te dink.
“Dis ‘n hele denkproses wat geleer word, eerder as ‘n doenproses.
“Ons kinders word geleer dit is hoe jy hierdie en daardie som doen.
“Voor die eksamen gooi ons net so ‘n boek vol ou vraestelle en die kinders word gedril.
“Daar kom hulle deur.


“Kinders kan glad nie lees nie.”
“Kom hul by die eerste abstrakte vraag op universiteit, wat gebeur? Hulle druip hulle eerste klomp toetse.
“Die kinders kan nie sien dat ons werk met een, twee en drie dimensies nie. Konsepte word nooit vasgelê nie. Hulle moet konsepte kan visualiseer.
“Moenie wiskunde in isolasie sien nie.
“Een van die ander probleme is dat kinders nie met begrip kan lees nie. Hulle sukkel op laerskool met woordsomme.
“Kinders kan glad nie lees nie. en 90% van die probleem is selfone.
“Op universiteit moet hulle ewe skielik ‘n abstrakte vraag antwoord, maar hul verstaan nie die vraag nie.

“Daar is briljante kinders wat dit nie maak nie omdat hulle nie kan lees nie. ’n Verder probleem is baie van ons kinders leer in Afrikaans. Hulle gaan universiteit toe en daar is als Engels.
“Daar moet beslis gekyk word na kinders se leespatrone – dit maak ‘n groot verskil hoe ‘n kind in wiskunde en alles vaar.


“Hoe kry ons dit reg om vir kinders die agterstand uit te wis?
“Die hele idee is om wiskunde te verander van hierdie resultaatgedrewe vak tot ‘n manier om te leer dink.
“Ek sal wil sien dat ouers hul kinders kry om te dink.
“As ons die kinders ‘n kans wil gee, moet ons daardie benadering begin toepas.
“Gee vir die kinders ‘n geleentheid om te dink.
“Ouers moet begin kyk wat kan jy buite die skool doen parallel met die huidige kurrikulum.
“Ons matriek word nie meer oorsee aanvaar nie.
“Hoe kry jy ‘n kind gemotiveer vir wiskunde, as hul sukkel?
“Die enigste manier is as hulle weet waarheen hulle wil gaan. Hulle moet regtig weet wat hul einddoel is. Dan is dit nie so moeilik om te motiveer nie
“Kinders weet nie wat hulle wil doen nie, want hulle is so vasgevang in sosiale media en het nie genoeg blootstelling aan loopbane nie.
“Kinders moet leer om op die rekenaar te klim en na te vors wat is nodig om in ‘n spesifieke rigting te kan gaan.”
“Kinders wat Cambridge gedoen het, voltooi hulle grade in die normale drie jaar.
Rall sê vir die Cambridge-kurrikulum is daar uitstekende handboeke beskikbaar en dit is moontlik om die wiskunde parallel met die skoolwiskunde te doen.
“Jy hoef nie op die skool se tone te trap nie.
“As die kinders parallel werk tot by IGCSE-vlak, gaan hulle goed doen in matriek.

“Maak enige universiteit in die wêreld oop ”
“Hulle hoef nie die Cambridge-eksamen te skryf nie.
“Doen dit as ‘n addendum. Dan gaan die kind ten minste leer hoe om te dink en dan gaan hul deurkom op universiteit.
“Maar hul kan die eksamen skryf vir die sertifikaat wat internasionaal aanvaar word. Dan het hul ‘n goeie wiskundekwalifikasie.
“Om die sogenaamde A level-wiskunde te hê, maak enige universiteit in die wêreld oop.
“Dit word beskou as ‘n filter.
“Die enigste mense wat Cambridge druip, is diegene wat nie bereid is om te werk nie.
“Dit is belangrik om elke dag te werk in wiskunde.
“Daar is baie hulpbronne elektronies beskikbaar.
“Die handboeke is ook beskikbaar.
“Daar is ook baie goeie wiskunde-tutors in die Swartland wat ekstra klasse aanbied en jou ook kan help.
Rall sê hy beveel ook aan dat kinders op internet die Scratch-program volg. Dit is gratis en ontwikkel deur die Massachusetts Instituut vir Tegnologie. Kinders leer daar om te programmeer en leer só vaardighede in formele logika/denkproses aan. Dit skakel nou met wiskunde. https://scratch.mit.edu/
Rall het bygevoeg hy wil nie op ander se tone trap nie, maar is bereid om vakansieslypskole in die streek te kom aanbied as daar ‘n behoefte is.

Leave a Reply

error: Content is protected !!