Uitnemende wyndruifoes verwag – Vinpro
Suid Afrika verwag voortreflike wyne van die 2020 wyndruifoes.
Die bedryf oes tans die laaste paar ton druiwe in agt van die 10 wynstreke.
Volgens die jongste beraming van die wynbedryfliggaam SAWIS (SA Wynbedryf Inligting & Stelsels) verwag wingerdboukundiges en kelderprodusente ʼn effe groter oes as die vorige jaar, maar steeds kleiner as die vyf jaar gemiddeld van 1.36 miljoen ton.
“Hoewel daar groot verskille in oesgrootte vanweë die geografiese verspreiding van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, kan die geskatte oesgrootte aan kleiner korrelgroottes, die voorkoms van botritisvrot en die voortslepende droogte in sekere gebiede toegeskryf word,” sê Conrad Schutte, van die wynbedryforganisasie Vinpro.
“Kleiner korrels het meer geur- en kleurkonsentrasie wat tot uitnemende kwaliteit in die wyn sal lei,” sê Conrad.
Hoewel die voortslepende droogte in die Klein Karoo steeds ʼn negatiewe effek op die oes in dié streek het, het die Olifantsrivierstreek wat veral voorheen deur die droogte geteister is, ʼn verbasend goeie oes gelewer danksy gematigde rypwordingstoestande, aanpassings in verbouingstegnieke en wingerde wat beter as verwag herstel het.
Omvangryke effek van Covid 19-maatreëls
“Ons verstaan die erns van die globale COVID-19-pandemie en ondersteun president Cyril Ramaphosa in sy besluit om uiterste maatreëls te tref om die veiligheid van die land te verseker,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro. “Die verbod op uitvoere en kapasiteitsbeperkings by ons belangrikste hawens sal egter ’n omvangryke uitwerking hê op die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, en selfs nog belangriker, die lewensbestaan van die byna 300 000 individue wat in die waardeketting werk.”
Moeilike tye vra vir samewerking
Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente is innoverend en het die afgelope paar jaar baie gedoen om aan te pas by ʼn verskeidenheid moeilike situasies, insluitend veranderende weerpatrone, ’n uitdagende ekonomiese klimaat en politieke onsekerheid.
Gedurende die COVID-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap weer eens bewys hoe hulle koersvas saam staan om parstyd onder uitdagende omstandighede en met beperkings voort te sit om die laaste druiwe vir 2020 in te bring.
“Onder buitengewone omstandighede is produsente en landbouwerkers ʼn uitstekende voorbeeld van ons Reënboognasie wat saamgestaan het en vinnig opgetree het om ekstra veiligheidsmaatreëls in plek te stel en seker te maak hulle voldoen aan die regulasies soos deur die regering uiteengesit,” sê Rico.