FEATURED

SM hou vergadering met oog op provinsie se kosprojek

Die Swartland Munisipaliteit het vanoggend ‘n inligtingsvergadering met nieregeringsorganisasies in die Swartland gehou om ‘n koördineringsplan te help opstel vir die voedselsekuriteithulp wat deur die provinsie aangekondig is.
Volgens die munisipaliteit se direkteur van ontwikkelingsdienste, Jo-Ann Krieger, wil die owerheid op dié manier ‘n bydrae maak om nood te help verlig wanneer dié hulp beskikbaar raak.

Peter Lewis van die departement van maatskaplike ontwikkeling het gesê dit is belangrik dat mense besef dat daar tans eers ‘n proses is om die praktiese relings rondom die voedselsekuriteitsprojekte in die provinsie te finaliseer.
Lewis het bygevoeg dit is ook belangrik dat die publiek kennis neem dat daar maatskaplike noodverligtingskriteria gevolg sal word om vas te stel aan wie die hulp verleen word.
Dié vasstelling sal deur die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) gedoen word en wel met ‘n telefoniese proses eerder as ‘n fisiese huisbesoek wat bepaalde gesondheidsgevare inhou.
Daar is nou vir elke dorp en substreek en substreek in die Swartland ‘n organisasie geïdentifiseer wat in noue samewerking met al die ander kleiner organisasies die programme sal koördineer wanneer dit in werking gestel word.

Peter Lewis van die departement van maatskaplike ontwikkeling

Die organisasies wat as koördineerders sal dien, is
die Goedgedacht Trust (Riebeek-Wes, Riebeek-Kasteel, Chatsworth, Riverlands en Koringberg);
Malmesbury Sinithemba (Malmesbury, Kalbaskraal en Abbotsdale);
Darling Outreach Foundation en Die Nessie (Darling) en
Moorreesburg VG Kerk (Moorreesburg).

Swartland Munisipaliteit se direkteur van ontwikkelingsdienste, Jo-Ann Krieger

Krieger het daarop gewys dat sopkombuise tans steeds gesluit is en dat daar eers deur die regering aanpassings aan die regulasies aangebring sal word alvorens dié planne uitgerol kan word.
Die idee is om kos op sentrale punte te berei en dan met die nodige voorsorgmaatreëls om almal se gesondheid te beskerm, beskikbaar te stel aan die betrokke huishoudings.
Die hulp van wetstoepassers kan dan ook benodig word om die groep by die punte te beheer.

Hierdie relings sal geld wanneer die projek deur die provinsie van stapel gestuur word.
Dr. Deon Snyman van Goedgedacht het, ná gesprek met rolspelers uit die gebiede waar dié organisasie as koördineer geïdentifiseer is, gesê dit is belangrik dat al die organisasies nou saamwerk. Sodoende kan moontlike duplikasie ook beperk word en kan die voedselprojek dieper penetreer om meer mense in nood te bereik.

Leave a Reply

error: Content is protected !!