Meyer verwelkom wysiging wat uitvoer van wyn magtig
Die Wes-Kaap se minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het die wysiging van regulasies om wynuitvoere te magtig, verwelkom.
Tydens die inperkingstyd word die volgende nou toegelaat:
Die vervoer van wyne en ander varsprodukte deur hawens en internasionale lughawens wat vir uitvoere goedgekeur is en
Landbouvrag kan vervoer word na hierdie hawens en internasionale lughawens.
“Die top-uitvoerprodukte uit die Wes-Kaap sluit sitrusvrugte, wyn, druiwe, vars appels, pere en kwepers in.
“Die wynbedryf lewer ook ‘n belangrike bydrae tot die landbou-ekonomie in ons provinsie en is ‘n groot skepper van werkgeleenthede in die Wes-Kaap,” sê Meyer.
“Meer as 90% van die wynkelders in SA is in die Wes-Kaap geleë, met 50 persent van alle wynprodukte wat uit die Wes-Kaap uitgevoer word, en ons wil sien dat dit groei.
“Marktoegang vir ons landbouprodukte is ‘n belangrike strategiese doelwit van die Wes-Kaapse regering.
“Ek sien uit daarna om met die betrokke handelsvennote saam te werk om ons uitvoermarkte te laat groei.
“Dit is my missie om ons landbousektor verder as Covid-19 en die inperkingsperiode te beskerm, en ons sal alles in ons vermoë doen om ‘n belangrike en kritiese sektor in die Wes-Kaapse ekonomie te beskerm,” het hy bygevoeg.