Boodskap van Swartland Burgemeester
Maandag 13 April 2020
Beste Swartlanders
GEVALLE IN DIE SWARTLAND
Ons kan bevestig dat daar tot 12 April net 2 positiewe Covid-19 gevalle is. Een in Darling en een in Moorreesburg.
Baie dankie aan al ons inwoners wat hulle so wonderlik by die streng Lockdown-reëls hou.
SOEK en TOETS oftewel die sg. “SCREENING and TESTING”
Dit sal binnekort met u gekommunikeer word van hoe en waar. Enige beampte wat aan u deur klop moet hom/haar behoorlik identifiseer en van Swartland se Wetstoepassers sal daardie beamptes vergesel.
HULPVERLENING en VOEDINGSKEMAS
Graag wil ons net van die Swartland Munisipaliteit duidelikheid rondom hulpverlening aan behoeftige gesinne gee. Ek wil weereens bevestig dat ons as Raad en amptenare van Swartland ten volle verbind is tot hulpverlening en ondersteuning van ons gemeenskap in hierdie moeilike tyd en dat ons hard hieraan werk.
Alle Swartland NRO’s het besluit dat daar volle samewerking sal wees tussen alle NRO’s, DSD (Provinsiale Departement Maatskaplike Dienste), SASSA, kerkgemeenskappe, skole se voedingsskemas, wyksraadslede en Swartland M se eie Departement Gemeenskapsontwikkeling.
Alle organisasies is hard aan die werk om uitvoering te gee aan ‘n mandaat om hulp te verleen waar behoefte is en die raadslede en amptenare het reeds hand uitgereik om al hierdie organisasies by te staan waar nodig.
Let asb. daarop dat hierdie projekte volgens wetgewing totaal onder beheer van DSD en SASSA is en dat ons as raadslede en Munisipaliteit geen beheer het oor die uitkoms nie. Ons vervul net ‘n ondersteuningsrol. Indien u navraag wil doen, kan u die kontaksentrum skakel by 086 014 2142.
HAWELOSES en VOEDINGSKEMAS
Swartland se raadslede en amptenare ondersteun met hulp van gemeenskapslede verskeie sopkombuise in die Swartland.
As u ‘n bydrae wil lewer, is u welkom om u plaaslike wyksraadslid te skakel.
In Malmesbury, Riebeekvallei, Darling en Moorreesburg huisves en voed Swartland Munisipaliteit se amptenare saam met raadslede en hulp van plaaslike omgeemense, NRO’ s en Meals on Wheels ongeveer 120 haweloses op verskillende plekke, soos sportgronde. Die haweloses word 2 keer per dag van kos voorsien.
Die munisipaliteit het ook aan plaaslike organisasies toestemming verleen om hulpverleningsprojekte te loods en word fondse ingesamel en beskikbaar gestel aan hierdie organisasies om van die projekte te bestuur, te behartig en uit te voer.
Ons is bewus dat daar ook andere projekte is wat privaat hanteer word en waar die munisipaliteit of raadslede geen aandeel in het nie. Maar om ons armste deel van die gemeenskap te ondersteun in hierdie moeilike tyd, is ‘n enorme werk en is ons maar te dankbaar vir enige hulp wat vrywillig aangebied word.
KRAGTOEVOER
In opdrag van ons raadslede het die munisipaliteit ook alle kragtoevoer herstel na huise waar die toevoer afgesny was. Ons kon net nie kragtoevoer herstel na huise waar daar probleme met interne bedrading is nie, aangesien dit ‘n risiko inhou.
Ook is opdrag gegee dat geen krag afgesny sal word tydens die Lockdown-tydperk nie.
In Eskom-areas word die krag deur Eskom self behartig.
MUNISIPALE DIENSTE
Swartland se raadslede en amptenare word ook gereguleer deur die Lockdown-regulasies en wetgewing, en is ons ook onderhewig aan dieselfde reëls en boetes as u as gemeenskap.
Van die 550 munisipale amptenare is daar meer as 350 by die huis in Lockdown.
Dit plaas ‘n enorme druk op die essensiële dienste wat moet voortgaan soos die voorsien van water, elektrisiteit, rioolsuiwering en vullisverwydering. Baie dankie aan daardie personeel.
WETSTOEPASSING
Ons is verbind daartoe om ons gemeenskap by te staan en doen alles in ons vermoë om almal se veiligheid te verseker met die beperkte aantal wetstoepassers.
Daar is in hierdie Lockdown-tydperk reeds meer as 200 padblokkades oor die Swartland gehou, waar meer as 5000 voertuie en mense gestop is en reeds naby ‘n 1000 mense beboet en/of gearresteer is.
Daar is ongelukkig nog altyd mense wat NIE WIL saamwerk NIE.
Maar die grootste deel van die gemeenskap werk baie mooi saam om hierdie onsigbare duiwel te BEVEG.
Baie dankie aan alle Swartland raadslede en amptenare wat baie hard werk in hierdie moeilike tydperk.
WEES VEILIG, BLY TUIS en EERSDAAGS
IS ONS WEER VRY OM TE BEWEEG.