Latest

‘Ek het vandag ‘n bottel rooi (Shiraz) gekoop’

Johan Viljoen
Dis grendeltyd. Vlak 5. “Ek is in die Swartland. En toe koop ek vir my saam met my ander kruideniersaankope ‘n heerlike bottel Shiraz by die supermark.”
Want ek kan. Só vertel ‘n inwoner aan dié courant.
Gemaak hier in die Swartland tussen Malmesbury en Darling, is dit ‘n heerlike dieprooi 2018 Shiraz met geure van ryp rooivrugte, gemaalde swartpeper, selfs droë roosblare en geglasuurde kersies en ‘n ondertoon van daardie tipiese Franse eikehout-tanniene.
Die bottel het duidelik deur die grendeltyd-sif geval.
Ja, want dit is een van Darling Cellars se splinternuwe reeks baie lae alkohol (de-alcoholised) wyne – laag genoeg om saam met koeldrank op die rak te staan en mag daarom in grendeltyd verkoop word.

En, verduidelik keldermeester Pieter-Neil Rossouw, dié veganvriendelike wyn is heerlik omdat dit van ‘n goeie basis kom.
Hy werk reeds ‘n hele paar jaar aan die ontwikkeling van dié nuwe produkreeks. “Dis die realiteit in vandag se lewe en jy kan nie bekostig om agter te raak nie.
“Daar is baie mense wat graag wil wyn drink en sosiaal kuier, maar hulle het sekere redes waarom hul nie alkohol gebruik of wil gebruik nie.”
Daar is ook die naderende nuwe wetgewing dat motoriste se bloedalkoholvlak 0% moet wees.
“Jy moet begin met ‘n goeie wyn. Jy wil nie ‘n swak produk in die mark indruk net om te sê jy het ‘n lae-alkohol of ‘n geen-alkoholwyn nie.
“Ons begin met ons Reserve-reeks – daardie kwaliteit.
“Daarvandaan haal ons die alkohol uit en bou basies die wyn weer van voor af op.”
Dit is nie ‘n filtreerproses nie, maar behels spinkegeltegnologie.
Daarmee word die vrugtige komponente in die wyn onder vakuum uit die wyn onttrek.

Keldermeester Pieter-Neil Rossouw

“Dit val oor ‘n paar honderd kegels wat teen ‘n redelike hoë spoed draai. Die vrugtige komponent word afgetrek en apart beskerm binne-in alkohol.
“Daarna gaan die wyn deur ‘n proses waar al die alkohol wat oor is, heeltemal uitgehaal word.
“Jy sit dan met die geure, met die alkohol en die ontgeurde en alkoholvrye wyn.”
Daarna begin die proses om die wyn weer terug te bou.
“Ons sit glad nie weer die alkohol terug nie, maar wel ‘n gedeelte van die geur.
Jy kan nie al die geure weer terugsit nie omdat dit binne-in alkohol beskerm word en as jy als terugsit, sal jy te veel alkohol weer terugsit.”
Daarna word algemene tanniene in die wynbedryf soos druiftannien en houttannien en gis-selwande gebruik en ‘n druiwekonsentraat om die mondgevoel weer reg te kry.
Dit word gedoen omdat, sê Rossouw, “sodra jy alkohol onttrek, maak jy die produk dun en hy verloor struktuur en lengte.”
Hy sê die proses, as jy met die gewone klaar wyn begin, “is redelik vinnig (ongeveer 9 tot 10 ure vir 5 000 liter) en dit is ook belangrik dat wanneer jy begin, moet jy nie met hom stop nie.
“Omdat hy nie alkohol in het nie, moet jy hom maak en hom dan in die bottel kry.

“Ons groot ding met hierdie produk is dat dit 100% wyn- en druif-produkte is en ons beskou dit as ‘n wyn. Daarom gebruik ons maar dieselfde preserveringswawel soos in gewone wyn.”
Rossouw sê dié produk se rakleeftyd kan met gemak op 12 maande en langer gereken word.
“Dit is nie gemaak om te verouder nie.”
Darling Cellars het pas drie produkte bekend gestel – die rooi (Shiraz), wit (Sauvignon Blanc) en Rosé (Sauvignon Blanc 96%/Grenache 4%).
Rossouw sê aldrie proe tipies die kultivar. “Dit is goed gesimuleer.”
“As jy daardie produk in die glas sit, gaan jy baie moeilik die verskil met ander wyn optel.
“Dit proe presies dieselfde as die gewone wyn. Dit is nou maar net daardie klein bietjie meer mondgevoel van die alkohol wat jy nie daar het nie.”
Gepols oor nog soortgelyke produkte: “Ons gaan verseker nog daaraan werk. Dis is nog ‘n evolusie en ek glo ons gaan ook kyk na ander produkte soos ‘n vonkelwyn.”
“Om die alkohol te verwyder en om die wyn te stabiliseer is ‘n klein bietjie duurder as normale wyn, want jy het nie nou die hulp van die alhohol nie.
“Jy sit met die risiko van oksidasie. So jy gebruik redelik droë ys-gasse tydens die pompaksies en filteraksies om die wyn te beskerm.
“Ons gebruik ook tans ‘n buitemaatskappy omdat die huidige volumes nie die uitgawe aan die nodige masjinerie regverdig nie.”
Rossouw sê die prys van die produkte is in lyn met dié van hul Reserve-reeks.

“Dit is sover bekend die eerste in die Swartland, maar daar gaan beslis nog kom,” sê hy.
*Om as een van die baie lae alkohol-wyne (de-alcoholised) te kwalifiseer, moet die alkoholinhoud onder 0.5% wees. Dan word dit nie meer in terme van wetgewing as wyn geklassifiseer nie en kan dit saam met koeldrank verkoop word.
Dit gee vir die wyndrinker die geleentheid om dit nou ook tydens grendeltyd te koop.
Dit is tans in die Darling Spar, Yzerfontein Spar en Moorreesburg Spar beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!