Agri/BusinessLatest

Swartland ‘nou baie droog vir saai, maar nie ongewoon’

Vir saaiboerdery is die Swartland nou baie droog en die boere sal graag nou wil reën hê.
“Maar dit is nie ongewoon nie. Dit is nog nie ‘n krisis nie.
“Ek gaan eers vir jou sê dit kan nog ‘n baie wonderlike jaar wees.”
Só gesels Truter de Kock, voorsitter van Agri Malmesbury, met dié courant oor die huidige landboutoestande vir saaiboere.

Dit is reeds diep in saaityd. “Die kanola en die weidings en die hawer is in.
“Daardie eerste reëntjie wat ons gehad het was baie welkom. As ons net ‘n opvolgreëntjie van 15 of 20mm gehad het wat die onkruide laat ontkiem het. Dan kon ons die onkruide doodgespuit het voor ons begin plant het.
“Ek skat die meeste boere is baie naby of rondom halfpad.
“Ons werk maar winkelure. Niemand is haastig nie. Hier en daar het ‘n boer gestop en dan begin hy maar weer. Niemand stop werklik nie. Dit gaan maar so tip-tap aan.
“Ons wag maar vir reën. Die grond werk nie lekker nie – dit breek kluite.
“Dit is duur. Die droogte het maar ‘n effek op die chemie wat ons spuit vir onkruidbeheer.

Henk Walters gister buite Malmesbury agter die stuur met planttyd.

“Dit is nie ideale toestande nie, maar dit is ook nie abnormaal vir die Swartland om dié tyd van die jaar so te lyk nie,” sê De Kock.
“Planttyd duur gewoonlik tot einde Mei, maar die meeste boere is gewoonlik rondom die 20ste Mei klaar. Ek vermoed dit gaan later as die 20ste raak. Hang af wanneer ons gaan reën kry. In die huidige stadium is daar geen reën in sig nie.
“So ek dink daar gaan lande lê wat einde Mei eers gaan geplant word as hulle reën kry.
“Maar ons het al die hele Swartland klaar geplant en die 6de Junie eers die eerste reën gekry.
“Ek is nie bekommerd op die huidige stadium nie.
“Die goedjies wat al op is, is ‘n bietjie van ‘n bekommernis. Die lupine en goed wat vroeg geplant is en bietjie reën gekry en ontkiem het. Hulle kan begin vrek. Want ‘n lupien hou nie baie van droogte nie.
“Maar ek dink nie daar is ‘n krisis nie. Die toestande is niks abnormaal nie, maar reën sal nou baie welkom wees.”

Gevra na sommige boere wat tans spuit, sê hy dit is maar onkruiddoder vir die onkruid wat al opgekom het en heel moontlik daarmee saam ‘n vooropkomsdoder wat keer dat die grasse opkom.
“Dit is nie ideaal vir daardie goed om in die droë grond en ultravioletstrale te lê nie. Hulle wil vog hê om in die grond in te gaan. Met die kluite wat breek, brand die ultravioletstrale die gif in sy swernoot in.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!