Swartland NG Moedergemeente vandag 275 jaar oud
27 Junie 1745 -2020
Een van die bekendste bakens in die Swartland, die NG Moederkerk op Malmesbury, is tuiste van die Swartland-gemeente wat vandag 275 jaar oud is.
Swartland, die vyfde oudste NG-gemeente in die land, is op 27 Junie 1745 deur ds. Franciscus le Sueur van Kaapstad gestig met die eerste predikant ds. Rutgerus Andreas Weerman.
Met die kerkstigting was daar 55 nuwe lidmate waarvan 35 van Kaapstad, 15 van Drakenstein en 5 van Stellenbosch.
Die kerk se leraar, ds. Jacobus Snyders, vertel aan dié courant die groot feesvieringe sou einde augustus vanjaar wees met Jo Black die Donderdag en ‘n basaar die naweek met tente en feesbasaar.
“Maar dit kan ons nou nie hou nie. Die gedagte is op die stadium vir ‘n datum vroeg in Desember net voor die skole sluit om dan ‘n lekker fees te hou. Ons weet nou nie of dit teen daardie tyd sal oop wees nie, maar dan moet ‘n ou maar weer verstellings maak.
“Jo Black gaan nog steeds kom kuier, maar eers wanneer als weer gaan oop wees.”
Naas Snyders het die gemeeente ook ‘n studenteleraar, Jacobus Maass, wat op ‘n kontrakbasis aangestel is.
Die oorspronklike rietdakkerkgebou is in 1751 voltooi en later in 1831 vergroot.
Die huidige kerkgebou met die a-simmetriese vooraansig in die Gotiese Herlewingstyl is laat in 1860 ingewy nadat daar aanvanklik besluit is om die ou kerk op te gradeer maar dié toe gesloop is.
Die nuwe kerk het aanvanklik slegs uit die middelste gedeelte in ‘n langwerpige vorm bestaan en sonder ‘n toring.
Die gebou het twee jaar later gedeeltelik ineengestort, waarna dit herstel is en met ‘n toring in 1864 in gebruik geneem is.
Dertien jaar later het die toring ook in duie gestort. Dit is herstel en in 1880 weer ingewy. Knap voor die draai van die eeu is die gebou gerestoureer en vergroot met die syvleuels en die galerye wat bygevoeg is. Die kerk is in 1899 ingewy. Die dak is sedertdien by meer as een geleentheid met ander materiaal vervang.
Die kerk en kerkhof is op 6 Julie 1979 tot nasionale monument verklaar.
Die orrel met sy 1818 pype en elektropneumatiese aksie is in 1938 ingewy. Dit het £2543 gekos.
Snyders vertel: “Ons het ‘n uitdaging tot die gemeente gerig om almal twee koeke te bak – een vir hul eie gesin om die verjaarsdag te vier, want ons kan nou nie by mekaar kom nie en nog ‘n koek om vir iemand te gee oor wie hulle besorg is of vir wie hulle omgee of iemand wat hulle dalk mis om langsaan in die kerkbank te sit en so ‘n bietjie uit te reik. ‘n Bietjie van ‘n uitreikaksie om darem die 275 jaar saam te vier.
“Ek het vir hulle gesê ons moet nou onthou dit is min wat ‘n mens 275 jaar oud word, maar eintlik is ons elkeen 275 jaar oud, want ons is mos die gemeente.
So almal wat deel was of nog deel sal wees, is deel van hierdie partytjie.”
Snyders sê: “Wat interessant is wat ek raakgelees het, is dat een van die eerste besluite wat gedokumenteer is, is dat die jaar na die kerkstigting hulle begin het met dankoffers insamel.
En hulle het die geld meestal gebruik om aan arm lidmate of ouens wat swaarkry te voorsien. Hulle het vir hulle die geld gegee. En toe is dit vir my ironies dat nou 275 jaar later in die Covid-tyd is ons nou presies daar. Ons het nou in die vorige paar weke elke week vir 70 gesinne kospakkies gegee. Ons is ook betrokke by die sopkombuis.
“So die hart van die gemeente was nog altyd om te help daar waar nood is. Wat vir my baie mooi is. Dis mos nou waarvoor ons geroep is.”
“As jy nou dink waar dit begin het met 55 lidmate en 4 kerkraadslede na vandag met om en by 1800 lidmate, dan is daar darem groei.” Hy sê daar is tans oor die 50 kerkraadslede.
“Ek dink dit is die groot ding. Mens kan maar net dankbaar wees. Die Bybel leer ons dat God sy gemeente onderhou. En dit is waar. Die predikante het gekom en gegaan en almal het hulle eie nukke en grille en wat ookal gehad. Die Liewe Heer het almal gebruik, maar Hy is die een konstante. Hy is die een konstante.”
Die gemeente se oudste lewende lidmaat is ‘n inwoner van Aandskemering, Tannie Babs Louw (99).
Die gemeente se aanvanklik grense het wyd gestrek en volgens rekords is lidmate van so ver as die Kamiesberg- en Calviniadistrikte hier gedoop.
Verskeie kerke het vanuit die Swartland-gemeente afgestig. Die eerste daarvan was Tygerberg (1826), gevolg deur Piketberg (1833), Hopefield (1852), Darling (in daardie stadium Groenkloof, in 1853), Riebeek-Wes (1858), Riebeek-Kasteel (1863 , nadat dit eers as ‘n hulpkerk deur ds. J. C. le F. Moorrees bedien is), Moorreesburg (1879) en Swartland-Noord (1964).
Die predikant wat die langste in die gemeente diens gedoen het, is ds. Johannes Carolus le Febre Moorrees. Hy was van 1833 tot 1881 ‘n leraar by Swartland. Die oud-predikantelys in volgorde, is:
di. R. A. Weerman; C. B. Voltelen; G. C. Croeser, D. Goldbagh; P. J. van der Spuy; M.C. Vos; J. Scholtz; J. Spyker; J. C. le F. Moorrees; C. Rabie; J. D. de V. Horak; H. J. Pienaar; L. J. Heyns; J. F. D. Oosthuizen; W. A. Landman; K. W. Heese; N. F. Treurnicht; L. Moolman; J. G. du Plessis; B. W. Visser; J. B. Loots; L. Delport; J. G. Bezuidenhoud; C. Nel; H. C. Kinghorn; E. Lombard; J. Nieuwoudt; G. Higgo; M. D. J. Smith; L. J. P. van Niekerk; A. F. van der Merwe; W. J . van Zyl; G. S. Boshoff; J. N. F. O’Kennedy; J. S. Higgs; G.C. Hattingh; J. F. W. Claassen en F. Henn.
Die kerk van die “Liberale” in Loedolfstraat
*Die preekstoel van die oorspronklik rietdakkerk wat in die laat 1850’s afgebreek is om vir die nuwe een plek te maak, is ná versoek van susters van die hulpkerk op Riebeek-Kasteel (wat aangebied het om dit te koop) aan dié kerk geskenk.
*‘n Groep “liberale” gemeentelede het in 1863 weggebreek ná ds. J. J. Kotzé op Darling wat toe uit die NG Kerk geskop is oor sy leringe. Ná hofuitsprake moes die kerk hom weer toelaat.
Die skorsing is op 2 September 1864 ter syde gestel in ’n uitspraak wat daarna gepubliseer is: Judgement in the case of the Rev. J.J. Kotzé, minister of the Dutch Reformed church at Darling versus the Right Rev. A. Murray, moderator of the synod of the Dutch Reformed church, delivered in the supreme court of the Colony of the Cape of Good Hope.
Die wegbreekgroep op Malmesbury het in 1970 ‘n kerkgebou in Loedolffstraat gebou. Dié gebou bestaan steeds.