Jong Sean laat seile hoog wapper – Beste in SA
‘n Jong 11-jarige seiljagvaarder van Malmesbury is pas as die beste o.19-seiljagvaarder vir 2019 in Suid-Afrika aangewys.
Sean Kavanagh (11), ‘n Gr 6-leerder aan die Christelike Privaatskool op Malmesbury, het al die wêreld vol geseil en in die optimist-klas in plaaslike en internasionale kompetisies sy slag gewys.
Die Raad van South African Sailing het Sean geluk gewens nadat hy aangewys is as die wenner van die David Butler-trofee (Junior Vaarder van die Jaar gedurende 2019).
Seiljagvaart bruis deur Sean se are en in die Kavanagh-huis is ma en pa Heidi en Michael self seiljagvaarders. Ook sy grootouers is ywerige seiljagvaarders.
Hy seil reeds van 4-jarige ouderdom op sy eie en het vier jaar gelede aan sy eerste kompetisie deelgeneem. Sean het intussen al groot suksesse behaal.
Hy is ook ‘n kranige kriekespeler en het vroeër vanjaar vir die Weskus se Suid-span diens gedoen.