Op die Swartland Fotografieklub se maandelikse webbyeenkoms het Phillip de Lange van Wolseley die wenfoto vir die aand ingeskryf.
De Lange se gradering is dié van meesterfotograaf en sy werk Malva Inner was ook die wenner in die senior afdeling.
Die beste inskrywing in die junior kategorie was Soreen Gouws van Piketberg se Kolle.
Theuns Olivier van Tzaneen se foto Old Silo Revival is as die wenner in die tema-afdeling, Inanimate Objects, aangewys.
Daar is ook ‘n selfoonafdeling en dié kategoriewenner was Adriaan Vlok met ‘n landskapfoto.
Die foto’s is beoordeel deur die bekroonde Lee Slabber wat spesialiseer in natuur- en landskapfotografie.
Slabber se werk is al by die Smithsonian Institute in Washington DC en die Natural History Museum in Londen uitgestal.
Die SA Fotografievereniging (PSSA) het ook ‘n paar jaar gelede ‘n FPSSA (Fellowship) aan hom toegeken.
Die Swartland Fotografieklub se byeenkoms is elke tweede Donderdagaand van die maand.
Hul tema vir Augustus se vergadering is Shadows/Negative Spaces.
Wanneer daar nie inperkingsmaatreëls is nie, vind die vergadering in die keldersaal van die NG Gemeente Swartland-Noord in Bergzichtstraat, Malmesbury plaas.
Enige belangstellendes kan die voorsitter, Adriaan Vlok, skakel by 083 707 8565.