LatestUncategorized

Steyn (77) herstel ná Covid én 6 keer in teater

Covid-hoop

Johan Viljoen

In die winter van 2020 is dit anders as al die ander wat ons geken het.
Dis soos oorlog en ons kan nie kom en gaan waar ons gewoond was nie.
Dit raak vir baie swaarder en donkerder.
Talle word effe siek van hierdie Covid.
Ander raak baie siek en veg vir hul lewens.

Ander sterf. Veral brose mense. Ouer mense. Siekes en mense met ander onderliggende mediese probleme.
In die groter Weskus het daar volgens die jongste beskikbare provinsiale syfers reeds 2225 mense positief vir die Corona-virus getoets.
Dit is (in volgorde van getalle) 917 in die Saldanhabaai -, 858 in die Swartland -, 247 in die Bergrivier -, 135 in die Matzikama – en 68 in die Cederberg munisipale areas.
Maar daar is steeds hoop.

Alfie Steyn (77)

Daar is steeds mense wat, statistiek en hul risikoprofiele ten spyt, weer opstaan en gesond word.
In Malmesbury is daar die merkwaardige storie van Alfie Steyn (77) wat ten spyte van hartomleidings – ses keer in die teater tydens inperking – en toe Covid-positief, gesond geword het nadat hy baie siek was.
“Toe hulle hom daardie laaste keer hospitaal toe geneem het, het ek nie gedink my man kom ooit terug nie.”
Só vertel Elisbe Steyn.
“Onthou ons is al in daardie kraaltjie waar die skape uitgevang word.”
“Hy is tuis. Maar baie swak en maer en het 17 kg verloor, maar behalwe vir die plek aan sy been wat nog moet herstel, is hy gesond.” Hy het ook reeds sedert verlede week weer 2kg opgetel.
Dit het als begin toe Steyn einde April hospitaal toe is vir ‘n angiogram weens ‘n pyn op sy bors.
Die medici het hom toe net daar gehou vir ‘n driedubbele hartomleiding.
Omdat sy hartritme uit was, moes hy later weer teater toe om geskok te word.
Dit het steeds nie die gewenste uitwerking gehad nie en toe volg ‘n pasaangeër.
En daarna moes hy weer geskok word.


Ná 3 weke in die hospitaal met die beperking op familiebesoeke weens die Covid-pandemie, is dié gebore Swartlander ontslaan om tuis aan te sterk.
Hy het reeds voorheen ‘n operasie aan sy been ondergaan en die wonde op sy been waar die are nou vir die omleiding geoes is, het nie na wense gesond geword nie en ‘n week later is hy weer toegelaat. Toe het die vaskulêre chirurg, prof. Danie du Toit, hom weer aan die been geopereer.
Vir Du Toit het hul net die grootste lof. Hy is werklik ‘n “smart dokter wat uit sy pad gegaan het en my ‘n paar keer gebel het,” vertel Steyn se vrou.
Haar man is 10 dae later weer ontslaan om tuis aan sterk. Maar hy het vinnig – binne ‘n dag – begin verswak. Vier dae later op 10 Junie was hy so swak dat die familie hom weer na die noodeenheid van die hospitaal in Panorama gehaas het. Daar is hy weer opgeneem en die volgende dag die skoknuus dat hy positief vir Covid getoets het.
Toe het die familie vir die ergste gevrees.
Weer kon die familie hom nie besoek nie.
In hierdie tyd, vertel hy aan dié courant, was hy so swak dat hy daar niks van kan onthou nie.
“Daar is dae waarvan ek niks weet nie.

“Ek was amper weg. Baie kortasem. Te kortasem om te praat. Hulle het my op suurstof gesit,” vertel Steyn, wat jare silobestuurder vir Wesgraan op Klipheuwel was.
Sy toestand het stadig begin verbeter en is hy na ‘n hersteloord in Goodwood oorgeplaas waar hy vir drie weke was voor hy verlede week ontslaan kon word.
“As dit nie vir die fisioterapeute was nie, dan weet ek nie. Hulle het my baie gehelp.”
“Jy moet onthou Alfie het darem die Human-gene en sy ouers het diep in die 90 geword voor hulle dood is,” sê sy vrou.
“Ek is net dankbaar die suurstof was vir hom genoeg. Hy het longontsteking gekry, maar sy suurstofvlakke het nooit laer as 91 gedaal nie en was ‘n ventilator gelukkig nooit nodig nie.
Onthou hy het vroeër jare goed gerook, maar darem al jare gelede opgehou.
“Ons is baie dankbaar. Dit is ‘n wonderwerk.”
Sy het in die vier dae voor hy positief getoets het, ook die virus opgedoen, “maar ek het darem gelukkig baie lig daarvan afgekom”. – (Foto’s: Carmé Steyn)

Leave a Reply

error: Content is protected !!