Latest

Mother City SkyDiving reg vir spesiale heropening

Johan Viljoen

Dit was ‘n lentedag.
‘n Doodgewone lentedag in die Swartland.
Ons het ‘n raps meer as 10 km uit Malmesbury gery en dit het ‘n ervaring van ‘n leeftyd geword.
‘n Pakkie met ‘n besondere lading… en dan ontprop tot ‘n euforiese – soos sjampanje skink en die drink ná daardie bruisende proplating.
Die sprong ‘n tree in die lug… adrenalienontploffend toe-oë… en toe die saligste van salige stilte en oopoog-hemelse vista op die Swartland, hartland. ‘n Raak beskrywing: “Jy val letterlik hierdie groot skildery tegemoet.”

Mother City SkyDiving – Cape Town het vyf jaar gelede onder die bekwame hande van internasionaal ervare valskermman Mike Rumble hul eerste spronge in die Swartland gegee.
Die klub is 12 km buite Malmesbury op die Diepkloof-vliegveld langs die N7 (33°21′06.93″S 18°41′55.11″E) geleë en het in hul eerste vyf jaar reeds meer as 20 000 veilige ongeluksvrye spronge hier gemaak.


‘n Groot inspuiting vir die plaaslike toerismemark en duisende oorsese toeriste na die Swartland gebring.

Oud-Swartlander, sanger en Bok-radio-aanbieder Le-Lue bokant Malmesbury

Ook plaaslik ondersteun en bekende en geliefde pakkies veilig afgelewer in die arena’s by streeksgeleenthede.
Onder daardie pakkies by Die Malmesbury skou was die burgemeester van die Swartland, Tijimen van Essen (2015), plaaslike musikant en TV-aanbieder Pietman Geldenhuys (2017) en oud-Swartlander, sanger en Bok-radio-aanbieder Le-Lue (2018). Hulle kom land ook by die Swartland Skou op Moorreesburg, Darling Brew Xtreme en verskeie interskole-dae.
Eers raas die wind goed en snel by jou ore verby en waai elke opening groter en laat flap wat kan flap…

En dan, duisende voet (want dit is die eenheid waarin dié lugduikmense praat) hoog in die lug ontplooi die lappie bo jou. Daar is niks – absoluut niks – tussen jou en die skone landskap nie.

Swartland-burgemeester Tijmen van Essen se sprong na die Malemsbury Skou.

‘n Haas onbeskryflike stilte en vry soos ‘n voël.
Asemrowend ‘n lappieskombers van graanlande, wingerde, hoogtes, damme, opstalle, paaie en dorpe – nader en verder.
Dáár is Tafelberg en dáár die wonderlike Weskus met die Atlantiese Oseaan…. onbelemmer in jou sig.
Daar is ‘n ervare tandeminstrukteur “op jou rug” wat jul veilig terug na moederaarde bestuur.

En een van die wêreld se bekendstes in lugsport, die bekroonde Olav Zipser (ook bekend as die vader van Vryvlieg) in sy kenmerkende geel pak, het by Mother City Skydiving kom kuier en reis saam met ons op hierdie kort aardwaartse vlug terug na Diepkloof. ‘n Lugakrobaat wat in vryval nuwe betekenis gee terme soos hoëspoed-presisie van die menslike liggaam, atlete van die lug … dolfyne in die atmosfeer. Wow!
By Mother City SkyDiving maak ervare kameramanne met GoPro’s en gespesialiseerde kamerahelms jou vlug mee vir hoë gehalte beeldmateriaal van jou sprong.

James Vos, in daardie stadium die DA se skaduminister vir Toerisme

Mother City SkyDiving het ‘n groot ervare en professionele span met baie ure in die lug en duisende spronge in tientalle lande op hul kerfstok.
En nou is hulle ook deur Covid ingeperk. Die klub val tussen sport, lugvaart en toerisme en met talle regulasies het die vliegverbod ook verreikende gevolge vir dié professionele valskermspan.
Maar Rumble sê hulle het baie planne vir die dag wanneer die lug weer oop is en hulle weer dié besondere ondervinding aan plaaslike en internasionale mense kan bring.

Hulle het ook begin met ‘n spesiale waglys waarop jy nou naam kan sit vir ‘n ekstra spesiale ondervinding wanneer hul weer die lug begin klief.
https://www.mothercityskydiving.co.za/post-lock-down-waiting-list/
Dus nou die tyd om jou naam op daardie lys te kry vir jou tandemsprong.
Jy het geen vorige valskermondervinding nodig nie.
‘n Ervaring wat jy op jou lewenstieklysie kan afmerk.

Rumble het ‘n groot bottel Sjampanje by die die Sun Met-perdewedren afgelewer

Mother City SkyDiving se valskermmeesters beheer die spoed waarteen hul moeder aarde nader of waarteen hulle in spesiale vliegpakke vlieg. Dié lug-akrobate kan met hul toertjies hulself maneuver in die beste posisies en dikwels as ekstra fotograaf om en onder jou sirkel vir ekstra asemrowende beeldmateriaal van jou sprong.
Daardie ondervinding wat jy nooit sal vergeet en vir niks sal wil verruil nie.
Mother City SkyDiving is onlangs aangewys as kategoriewenner in die Internasionale Toerisme Filmfees (Afrika) in die afdeling vir Sport- en Avontuurtoerisme.

Chiappini Boshoff doen op 91 haar tandem-sprong

Hul inskrywing: Let’s Jump out of a Plane https://player.vimeo.com/video/376638027.
Rumble vertel van die uiteenlopende gaste wat hul al op tandemvlugte geneem het.
Een daarvan was Chiappini Boshoff. Sy was op 91 die oudste gas wat al hier gespring het saam met haar dogter, Magda Pretorius (60).

Hy sê die gogga het Peter Martin (85) van Kaapstad ook behoorlik gebyt en dié het al drie keer hier gespring en elke keer nog vriende en familie gebring om saam te spring.
In 2018 het die saksofoonspeler George Sax hier tot in die rekordboeke gespring toe hy sy saksofoon in vrye val bespeel het om ‘n musiekvideo vir sy ‘Touch the Sun’-snit te maak.

Peter Martin (85)

By die Swartland Skou op Moorreesburg

“Ons hoop om binnekort weer aktief deel te neem aan die toerisme van die streek om mense na Malmesbury te bring om die Swartland te geniet.

Hierdie pandemie het ‘n rampspoedige ekonomiese impak op alle sfere – die lug roep!
“As ons weer kan oopmaak, sal ons ‘n paar spesiale aanbiedinge hê vir die plaaslike gaste en ook met ons groot Bonanza-heropening.”

Jean Jacques Wallis spring met ‘n Rockie-uitrusting by dieSwartland/Hugenote-interskole

Waldo Prinsloo in sy vliegpak bo Tulbagh vir die Tulbagh-skou

Besoek Mother City SkyDiving – Cape Town se webwerf gerus by https://www.mothercityskydiving.co.za of hul sosialemedia-bladsye.

Leave a Reply

error: Content is protected !!