Optiese vesel in Malmesbury: Panorama volgende
Die aanlê van hoë-spoed optiese veselinternet vir woonbuurte in Malmesbury is nou goed op dreef en die ondergrondse pypnetwerk vir die eerste woonbuurt, Tafelzicht, nader voltooiing.
Volgens Stiaan Carstens van Marturia Fibre Optic Services wat die konstruksie van die netwerk doen, behoort die optiese vesel kabel binne die volgende 14 dae aangeskakel te word en dan sal die eerste huise in dié buurt wat reeds opgeteken het, van die diens gebruik kan maak.
Dit is ook wanneer daar na die tweede fase in Panorama oorbeweeg sal word.
dié courant het vroeër berig dat, anders as op die meeste ander dorpe en stede in die land, word dié netwerk deur ‘n plaaslike maatskappy, Cornergate Technologies, uitgerol.
Eienaar Pieter van der Westhuijzen het gesê volgens vooruitskatting sal die 10de fase binne die volgende 18 maande voltooi wees.
Dit sal ‘n oop netwerk wees, wat beteken wanneer die hele dorp se fases voltooi is, sal tientalle ander diensverskaffers dit ook kan gebruik om internet aan kliënte te verkoop.
Pakette vir verbindings tot 200 megagrepe per sekonde (Mbps) sal aanvanklik beskikbaar wees.
Die kabel waarbinne die optiese vesel is, is ongeveer 1cm dik en daar word mangate op die sypaadjies geïnstalleer met groot wit deksels op die hooflyn en met kleiner groen deksel tussen elke twee huise.
Tydens die konstruksiefase kan kliënte reeds van die hoë-spoed diens begin gebruik maak deur die diensverskaffer Flynet. Laasgenoemde sal tydens die loodsfase as internetdiensverskaffer optree tot die hele netwerk operasioneel oopgestel word.
Inwoners kry die geleentheid om tydens die konstruksiefase in hul buurt nie vir die aanlê van die netwerk na die huis te betaal nie. Installasiefooi is dan gratis.
Wanneer die kontrakteurs na die volgende fase/buurt skuif, sal die installasiefooi vir maand-tot-maandgebruikers in die voltooide buurt R2400 beloop.
Flynet se maandelikse tariewe vir tuisgebruikers (nie besigheidspersele) is soos volg:
tot –
10Mb/s aflaai en 5Mb/s oplaai – R505/maand
20Mb/s aflaai en 10Mb/s oplaai – R699/maand
50Mb/s aflaai en 25Mb/s oplaai – R850/maand
100Mb/s aflaai en 25Mb/s oplaai – R999/maand
100Mb/s aflaai en 100Mb/s oplaai – R1399/maand
Groter pakette is beskikbaar op aanvraag.
Installasie is gratis vir 24 maande-kontrakte.
Vir enige aansluitingsnavraag skakel 060 999 9514.