Swartland M in top-drie in SA
Die Swartland Munisipaliteit is pas weer aangewys as een van die drie mees finansieel volhoubare plaaslike munisipaliteite in die land.
Ratings Afrika het pas hul jaarlikse Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks gepubliseer en daarvolgens is Swartland op nommer drie met 73 punte uit ‘n moontlike honderd.
Die ander twee top-munisipaliteite volgens dié verslag se kriteria is ook albei in die Wes-Kaap. Swartland se buurmunisipaliteit Saldanhabaai is tweede met Mosselbaai in die eerste plek.
Die indeks is gebaseer op ‘n puntemodel wat ses aspekte evalueer – die bedryfsprestasie, likiditeitsbestuur, skuldbestuur, begrotingspraktyke, bekostigbaarheid en infrastruktuurontwikkeling van die munisipaliteit.
Die 100 grootste plaaslike munisipaliteite word vir die verslag ondersoek.
Dit is belangrik om daarop te let dat die verslag op 2019-syfers gebaseer is en wel dié van Junie verlede jaar. Die impak van Covid 19 is dus nog nie in die opname verreken nie.
Die finasiële volhoubaarheid, aldus die verslag, word gedefinieer as: “Die finansiële vermoë om dienste te lewer en die infrastruktuur wat die inwoners benodig, te ontwikkel en te onderhou sonder onbeplande verhogings in die tariewe vir belasting en dienste of ‘n verlaging in die vlak van dienslewering. Verder moet die munisipaliteit die kapasiteit hê om finansiële skokke wat deur natuurlike, ekonomiese, politieke en ander teëspoed veroorsaak word, sonder eksterne finansiële hulp te absorbeer. “
Luidens die jongste verslag is die Vrystaat en Noordwes die swakste provinsies met ‘n gemiddelde telling in 2019 van onderskeidelik 21 en 25. die gemiddelde in die Wes-Kaap is 59. Dié syfer het die afgelope 5 jaar sedert 2015 gegroei vanaf die aanvanklike 56.
Die verslag beskryf die groei in volhoubaarheid in die provinsie as merkwaardig as die knellende droogte van 2017 en 2018 in ag geneem word.
Ratings Afrika sê 63 uit die 100 munisipaliteite landwyd het syfers onder 40 uit 100 behaal. Dit dui op ernstige probleme met finansiële volhoubaarheid.
Die top-presterende munisipaliteite, sê die verslag, het oor ‘n aantal jare baie moeite gedoen om hul volhoubaarheid te versterk, wat hulle nou in ‘n baie sterk posisie plaas om in infrastruktuur te belê en in staat te wees om finansiële skokke soos die Covid 19-pandemie en grendeltyd te absorbeer.
Hierdie munisipaliteite het volgens die versalg gewoonlik goed verskanste finansiële beleide en hul begrotings is gebaseer op gesonde finansiële strategieë oor die langtermyn. Hulle hou ook gewoonlik by goeie begrotingspraktyke, streng finansiële beheer en goeie invorderings, selfs onder moeilike ekonomiese omstandighede.
Ratings Afrika waarsku dat die effek van Covid 19 die situasie by baie munisipaliteite dramaties laat verswak. Covid 19, sê hulle, gaan ‘n langdurige uitwerking op munisipaliteite se finansies hê en sal die volle impak op die finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteite eers oor ‘n jaar of twee sigbaar wees.