Twee bekendes van Darling vier mylpape
Twee van die bekendste inwoners van die Swartland vier vandag onderskeidelik hul 85ste en 75ste verjaarsdae.
Hulle woon al meer as twee dekades op Darling.
Evita Bezuidehout die gewilde oud-ambasadrise van Bapetikosweti word vandag 85 en om saam te val met haar verjaarsdag het hul by Evita se Perron op Darling vandag as Nasionale Swartland Kitchen beskuitdag verklaar.
Die gewilde Evita se Perron het onlangs van einaaarskap verwissel toe die eienaars van Darling Sweets, Frits van Ryneveld en Hentie van der Merwe, dit by die satirikus Pieter-Dirk Uys oorgeneem het.
Hul het ook ‘n splinternuwe reeks beskuit wat op die perseel gebak en onder die naam Swartland Kitchen verkoop word.
Uys vier vandag sy 75ste verjaarsdag.
Tannie Evita het op 28 September 1935 as Evangelie Poggenpoel in die klein dorpie Bethlehem in Oranje-Vrystaat haar eerste lewenslig aansou. In die vyftigerjare het sy bekendheid verwerf as aktrise vir haar rolle in Afrikaanse films soos Meisie van my Drome en Duiwelsvallei.
Sy trou in 1958 met dr J.J. de V. Bezuidenhout (later bekend as Oom Hasie), die parlementslid van Laagerfontein. Hulle het drie kinders – De Kock, Izan en Billie-Jeanne.
As oom Hasie se vrou ontmoet sy baie politici en leiers. Later jare is sy aangestel as die land se ambassadrise in die onafhanklike tuisland, die Republiek van Bapetikosweti.
Uys het vroeër Evita se storie vertel. Hy het in die laat 70’s ‘n rubriek in ‘n Johannesburgse dagblad behartig. Daar was baie woelinge in die politiek, maar omdat die sensuur en persbeheer baie streng was, het hy ‘n fiktiewe karakter geskep om oor die “gerugte” te berig.
Dié karakter was vir ‘n paar jaar deel van die rubriek en het so gewild geraak dat iemand haar die Evita van Pretoria gedoop het.
Toe hy in 1982 sy eenmansvertoning, “Adapt or Dye” op die planke bring, het dié karakter gestalte gekry met lang wimpers, hoëhakskoene en ‘n handsak.
Die res is geskiedenis. Evita het ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword en ook bekendheid in Australië, Brittanje, Kanada, Nederland, Duitsland en Skandinawië verwerf.
Uys het in 1995 op Darling aangekom. Hy was “eintlik op pad na McGregor, maar het daardie afdraai gemis”.
Hy bestel toe ‘n schnitzel by Zum Schatzi en ontmoet vir Dale Gremels wat sy vertoning die vorige week by die Baxter-teater gesien het. Sy besluit om hom meer van die dorp te wys. ‘n Verlate Victoriaanse huis met houthortjies wat oop staan, vang sy oog. Die huis is sumier vanuit sy motor gekoop en hy groet Darling ure later met ‘n vol maag en eienaar van ‘n leë gebou.
Toe hy uiteindelik na Darling trek, kom Uys te hore van die ou stasiegebou in Arcadiastraat wat leeg staan. Die stasie het sy deure in 1970 toegemaak.
Hy word gevra of hy moontlik die gebou wil huur as ‘n stoor. “Ek het natuurlik al Evita se skoene en nonsens. Ek het dadelik ja gesê, anders sou die munisipaliteit dit wou afbreek. “Ek staan toe langs die spoor en ‘n groot trein kom verby, toe dink ek skielik aan Evita Peron van Argentinië. Evita se perron is Evita se stasieplatform.”
Die idee van sy eie teater het reeds lank al plek in sy verbeelding gekry.
“En dit is waar dit begin het. Mense het vir my gesê ek is mal om ‘n teater op Darling te open. Maar mal is goed, dit beteken mense het nog nie daaraan gedink nie.”
Hy sê die naam van die dorp is ‘n bonus. Hy is al baie gevra of hy die naam gegee het, lag hy: “Darling is Darling, maar is ook Engels vir skattie. En ek sê altyd ons is in die Swartland. The only part of South Africa honest enough to call a spade a spade.”
Uys het reeds met sy gemeenskapsbetrokkenheid ook ‘n groot impak gemaak op Darling en sy mense en baie geliefde geword.
15 jaar gelede is die Darling/Moorreesburgpad (R307) na Tannie Evita vernoem en heet die Evita Bezuidenhout Boulevard.
Uys vertel hy het as jong man in die vloot op Saldanhabaai, die bussie met ‘n naweekpas na Darling gevat, waar hulle die lekkerste vleispasteie by die ou stasiegebou gekoop het. Hy het toe nooit gedink die platform sou sy tuiste word nie.